Die Primrose-rugbyklub het die 2025-seisoen goed begin toe hy Saterdag 8 Maart sy eerste wedstryd teen die Orchard-rugbyklub gewen en dinge vorentoe vir hom goed gelyk het. Maar die afgelope Saterdag (15 Maart) het hy lelik vasgeval toe die Laingsburg-rugbyklub hom op sy tuisveld met 29-26 geklop het.
Hoewel Primrose die telbord vroeg in die wedstryd met ‘n verdoelde drie eerste aan die rol gesit het, het Laingsburg nie op hom laat wag nie en ook sy rekening met ‘n strafskop geopen. Daarna het die manne mekaar behoorlik die stryd aangesê en die telbord gedurig aan die rol gehou. Laingsburg het uiteindelik die pas aangegee en Primrose moes lelik bontstaan teen Laingsburg se aanvalle. Die telling het later wipplank gery en met rustyd was dit 14 punte vir Primrose en 15 vir Laingsburg.
Ná rustyd en met vars bene van die plaasvervangerbank af, het Primrose beter rugby begin speel, maar dit het nie Laingsburg se ritme versteur nie.
Laingsburg het alle fasette oorheers, waarvoor Primrose geen antwoord gehad het nie – veral by die skrums waar Primrose verlede seisoen koning gekraai het. Hier het Laingsburg hom lelik ore aangesit.
Met die bal in die hand was Primrose gevaarlik, maar verkeerde besluite was sy ondergang. Laingsburg het dit uitgebuit en sodoende sy telling telkemale groter gemaak. Daarby het Laingsburg ‘n stelskopper gehad wat gewis nie sy skopskoene by die huis vergeet het nie.
Primrose het stadig maar seker begin terugveg en die telling was op ‘n tydstip 26 punte elk, met ‘n bonusdrie vir Primrose ingesluit.
Maar dit was weer eens Laingsburg wat Primrose laat verstaan het dat hy nie verniet so ver gereis het om te kom verloor nie. Laingsburg se stelskopper het in die laaste minuut met die uurglas wat uitloop, nog ‘n strafskop deur die pale gejaag en die spyker in Primrose se doodskis gekap.
Saterdag (22 Maart) speel Primrose weg teen Breerivier Villagers. Spelers word weer eens versoek om die oefensessies by te woon.



