Primrose RVK van Worcester het die afgelope Saterdag (29 Oktober) Greyton RVK net-net 26-25 in Esselenpark-stadion geklop.
Die eerste lynstaan van die wedstryd is deur Greyton gewen en hulle het hierna die eerste drie gedruk.
Primrose het egter dadelik terugbaklei en met ’n drie geantwoord, wat deur die senter Octavier Cupido gedruk is. Die skopskoen van vleuel Ryan Haupht het die telling na 7-5 in Primrose se guns gebring.
Met die afskop hierna het Primrose ’n fout begaan en is met ’n strafskop beboet, waarna Greyton weer voorgeloop het (telling 8-7).
Die voorsprong was egter van korte duur, want Primrose se Leachim Adams het ’n pragtige drie gedruk en Primrose het die voortou 14-8 teruggeneem.
Die manne van Greyton het nie gaan lê nie en met nog ’n drie geantwoord, wat weer deur ’n drie van Primrose beantwoord is. Haupht wa suksesvol met die doelskop, wat die telling tot 21-13 vir die Worcesteriete opgestoorr het.
Primrose het verder fluks aangeval en teen rustyd was die telling 26-13.
Dit het gelyk asof Greyton goed asem geskep het met rustyd, want kort ná rustyd is hulle oor vir ’n drie, wat Primrose se voorsprong gekrimp het.
Die spanning het deurgaans hoog geloop met die twee spanne wat kop-aan-kop was tot byna op die blaas van die eindfluitjie, en tot Primrose se groot verligting het die fluitjie weergalm kort nadat Greyton se doelskop mis was en Primrose 26-25 gewen het.


