Gert Laban is onlangs as die Witzenberg se onderburgemeester uitgedryf.Foto:


Die politiese ellende van die Witzenberg is klaarblyklik nog nie verby nie.

Die DA in die Witzenberg het Donderdag (18 April) in ’n persverklaring gesê die DA-geleide koalisie het daarin geslaag om die onderburgemeester uit sy pos te haal.

“Vandag, op ’n spesiale raadsvergadering, het die DA-geleide koalisie in die Witzenberg-munisipaliteit, saam met die VF+, Witzenberg Party en ICOSA, daarin geslaag om Witzenberg Aksie se onderburgemeester, Gert Laban, uit te stem,” het Wendy Kaizer-Phillips, die DA se kiesafdelingshoof van die Witzenberg, gesê.

Laban is destyds vir die pos verkies nadat dit ’n geruime tyd vakant was. Hy is ’n lid van die politieke party Witzenberg Aksie.

Volgens die DA se persverklaring is hierdie aksie teen Laban weens verskeie redes geneem.

“Laban is uitgedryf weens verskeie bewerings van inmenging met die administrasie en vir die verbreking van die samewerkingsooreenkoms tussen koalisievennote en saam met die ANC. Die ontwikkelings van vandag (18 April) behoort as ’n les te dien vir enige individu wat nie optree in die belang van die gemeenskap wat dit dien nie. Ons waardeer ons vennote in die Witzenberg-munisipaliteit en ons poog altyd om besluite te neem en plaaslike regeringsake te doen in die beste belang van alle gemeenskappe. Ons kan dus nie toelaat dat eiebelang-partye, soos Witzenberg Aksie, die munisipaliteit op losprys hou waar kaderontplooiing en wanbestuur hoog op die lys is nie.”

Die Witzenberg se politieke sege het in 2023 begin toe die Speaker, Elizabeth Sidego, ’n vergadering weens die oorstromings en skade moes kanselleer. ’n Groepparty het ’n ongemagtigde vergadering gehou waartydens hulle die Speaker en destydse burgemeester, Hennie Smit, uit hul amp gesit het.

Die nuutverkose onderburgemeester van die Witzenebrg is raadslid Johnathan Nel, ’n lid van ICOSA.

“Ons wens die nuutverkose onderburgemeester, die raadslid Jonathan Nel, geluk. Ons sien daarna uit om saam met ons vennote te werk aan ’n plaaslike regering wat vir almal werk.”

Sy maak in dieselfde verklaring melding van die Patriotiese Alliansie wat by verskeie klein partye aangesluit het.

“Ons neem kennis dat die Patriotiese Alliansie hierdie week by verskeie klein partye aangesluit het, insluitend Witzenberg Aksie, in ’n poging om hul koalisie van korrupsie met die ANC uit te brei. Maar, die mense van Witzenberg is duidelik – hulle wil stabiliteit hê en hulle vertrou die DA-geleide koalisie in Witzenberg om stabiliteit te verseker, die munisipaliteit in die regte rigting te beweeg en gehaltedienste aan alle gemeenskappe te lewer.”

Gert Laban, Witzenberg Aksie se leier, het die volgende aan Standard & Gazette gesê.

“Dit is uiters hartseer en terselfdertyd baie kinderagtig van ’n groot party om goedkoop politieke punte by die breër gemeenskap te probeer aanteken deur moddergooiery te gebruik teen ’n opposisieparty wat hulle gedink het geen bedreiging inhou nie.”

Hy meen hy is uitgedryf omdat hy nie saam met die stroom wou gaan nie. “Ek is uitgedryf omdat ek nie saam met die stroom van leuens en besluite wat niks vir die gemeenskap inhou, wou gaan nie. Die DA het nie goed gesit met ’n koalisievennoot wat besluite bevraagteken wat geneem is en nie ons breër Witzenberg-gemeenskap bevoordeel nie. Dit is die hoofrede waarom hulle ’n maat gesoek het wat stil sal wees en net hul sinistere leiding sal volg.”

Laban verduidelik verder die DA het glo beloftes gemaak, maar volgens hom nooit nagekom is nie. “Kaderontplooiing van DA-kant af is bekend. Dit is nie ongewoon vir enige party wat in koalisies gaan dat geleenthede wel bespreek word nie. Die DA het verskeie beloftes aan Witzenberg Aksie gemaak, waarvan niks gekom het nie. Om die vordering wat Witzenberg Aksie gemaak het – deur met die Patriotiese Alliansie te werk, as korrup te kritiseer, terwyl ons en die mense van Witzenberg weet hulle is tot in hul kern korrup. Hulle beveg verandering in die raad met alles wat hulle het, om seker te maak dat al hul korrupsie nie die strate tref voor die komende verkiesing nie. Maar Witzenberg Aksie kan hulle verseker die koekiepot gaan breek.”

Verder voeg hy by Witzenebrg Aksie is nie lus om in ’n modderslingery met die DA betrokke te raak nie.

“Ons as Witzenberg Aksie sien dit nie goed en nodig om in ’n moddergooi-kompetisie te verval met ’n oningeligte DA-kiesafdelingshoof wat net skryf wat sy dink reg is nie. Die mense sal op 29 Mei by die stembus besluit.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article