Die DA se Kiesafdelingshoof, Wendy Kaizer-Philander het Donderdag 22 Maart in ’n persverklaring gesê die ANC het vroeër die week probeer om ’n mosie van wantroue in te dien teen die DA-burgemeester en speaker van die Witzenberg-munisipaliteit.

“Die poging is georkestreer deur die ANC, wat saamgespan het om ’n effektiewe burgemeester en speaker te probeer verwyder vir hul eie politieke gewin. Soos met alles wat met die sinkende ANC-skip verband hou, het hierdie poging egter misluk toe die opposisieraadslede nie konsensus kon bereik oor wie die ampsdraers moes wees nie. Die geskarrel het begin toe hulle vir twee koukuspouses gevra het, maar kon steeds nie konsensus bereik nie. Dit is dus duidelik dat die ANC en hul trawante net in eie gewin belangstel, en nie om die mense te dien nie,” lui ’n die verklaring.

Die Witzenberg se politieke ellende het in Junie verlede jaar reeds al begin toe ’n nuwe burgemeester en speaker in ’n onregmatige vergadering verkies was. Na ’n lang getalm en heen-en-weer tussen die DA en GOOD, is daar egter toe in Oktober ’n nuwe burgemeester en speakers verkies, en die vakante pos van onderburgemeester is ook gevul. Katriena Robyn is as burgemeester aangewys, Gert Laban as onderburgemeester en Petrus Heradien as die nuwe speaker.

Verder sê Kaizer-Philander die DA sal nie onderduimse komplotte teen die party toelaat nie.

“Die DA sal nie toelaat dat onderduimse party-politieke komplotte hierdie munisipaliteit destabiliseer en die welstand van ons inwoners aantas nie. Ons bly bo alles daartoe verbind om te verseker dat dienslewering op ’n hoë vlak vir die inwoners van Witzenberg voortgaan. Die DA in die Witzenberg bly vasberade en ons sal voortgaan met ons stryd om Suid-Afrika van die ANC en hul trawante te red.”

Standard & Gazette het tevergeefs probeer uitreik na die ANC. Sodra kommentaar vanaf die party ontvang word sal dit by hierdie berig bygewerk word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article