Die drie polisiebeamptes en twee voormalige polisiebeamptes wat in hegtenis geneem is op klagtes van inbraak, aanranding en intimidasie het vandag (Donderdag 8 September) in ’n volgepakte Wolseley-hof verskyn.
Cashwin Visagie (29), Ricardo Conradie (39), Byrone Williams (26), Heinrich Hendricks (38) en Wayne Boer (44) het vlugtig hul verskyning gemaak nadat hul op Dinsdag 6 September in hegtenis geneem is.
Visagie, Conradie en Williams staan tereg op ‘n klag van huisbraak met die opset om aan te rand. Boer staan tereg op ‘n klag van intimidasie en ‘n klag van korrupsie. Hendricks is aangekla van regsverydeling.
Boonop blyk dit Boer en Conradie staan ook in Tulbagh tereg op ’n aanklag van korrupsie. Dit is nog nie bekend waaruit dié twee se Tulbagh-aanklagte spruit nie.
Die klagstaat beweer dat Visagie, Conradie en Williams op 20 Julie vanjaar ‘n eiendom in Wolseley betree het en ‘n vrou gestamp en daarna gevloek het.
Op dieselfde dag het Hendricks na bewering vir Boer vergesel na dieselfde eiendom waar die voorval plaasgevind het en die bewoners aangemaan om nie ‘n saak te open nie. Die volgende dag het Boer na bewering egter die mense R3 000 as omkoopgeld aangebied.
Dit is nog nie duidelik waaroor die geskil by die eiendom gehandel het nie. Standard het die betrokke adres besoek, maar kon geen persoon wat by die saak betrokke is, hier bereik nie.
Familielede en vriende van die beskuldigdes het die hofbanke volgepak.
Die staatsaanklaer het betoog dat die staat nie sal teenstaan dat Williams en Hendricks op waarskuwing vrygelaat word nie, maar dat die ander drie beskuldigdes of in aanhouding moet bly of ‘n formele borgtogaansoek moet bring.
Williams en Hendricks is toe onder streng voorwaardes op eie verantwoordelikheid uitgelaat.
Conradie se regsverteenwoordiger het dadelik ‘n borgtogaansoek gebring en het uit ‘n beëdigde verklaring voorgelees dat Conradie vir sy gesin sorg en dat hy deesdae in Worcester woon en kos uit ‘n waentjie vir inkomste verkoop. Hy ontken ook alle aanklagte teen hom.
Landdros Klazen het borgtog van R2 000 aan Conradie toegestaan, onderhewig aan die voorwaarde van huisarres en ook dat hy die area van Wolseley moet vermy tensy dit vir hofverrigtinge is. Hy mag ook steeds uitgaan om sy inkomste verdien.
Visagie en Boer bly in aanhouding nadat hul borgtogaansoek uitgestel is tot Dinsdag 13 September.
Een familielid het na afloop van die verrigtinge die skare buite toegespreek en gesê: “Dit is pure ‘spiteful-geit’ hierdie. Hoe het kriminele deesdae meer regte as polisiebeamptes?”
Twee vroue het ook nadat die hofsitting verdaag het, buite in trane uitgebars, terwyl Conradie se familie geskarrel het om die R2 000 vir sy borg in kontant na die hof te bring.
Nog ’n vrou, wat op voorwaarde van anonimiteit met Standard gepraat het, sê dat ‘n saak altyd twee kante het.
“Ek glo in hulle onskuld. Iets anders is hier aan die gang. Veel verder kan ek nie sê nie en ek gaan nie verder met die media hieroor praat nie.”


