In ‘n saak wat jare geneem het om af te handel, is ‘n oudpolisiebeampte van Montagu verlede week in die Montagu-streekshof tot 25 jaar tronkstraf gevonnis.
Dit volg nege jaar nadat Frederick Soldaat ‘n 15-jarige meisie in 2016 in die polisiekantoor se traumakamer verkrag het. ‘n Traumakamer word juis ingerig om die slagoffers van traumatiese misdade veilig te laat voel.
Die saak het wyd onstelde reaksies uitgelok. Baie inwoners wat gesê het die polisiekantoor moes juis ‘n plek wees waar die kind veilig is.
Ander was ontsteld omdat die saak nege jaar geneem het om af te handel voordat die slagoffer afsluiting oor die ontstellende voorval kon kry.
Die Covid-19-pandemie en beurtkrag het bygedra daartoe dat die saak lank geneem het om af te handel.
Regsverteenwoordigers
Dié hof het ook slegs een keer ‘n week gesit. Soldaat het ook van regsverteenwoordigers verander, wat verdere tyd in beslag geneem het.
Die hof het afgewyk van die voorgeskrewe minimumvonnis as gevolg van die skuldige se mediese toestand.
Gedurende die hofverrigtinge het die staatsaanklaer, Henrich Koert, bewyse voorgelê wat die storie vertel het.
Die slagoffer se ma het, nadat sy en haar dogter ‘n uitval gehad het, haar na die polisiekantoor geneem. Sy het versoek dat hulle haar help om haar te kalmeer. Soldaat was een van die beamptes wat die saak hanteer het.
Beamptes aan diens het die meisie in die traumakamer ingeboek. Soldaat moes ‘n toelatingsvorm invul, wat onder meer haar ouderdom as 15 jaar aangedui het. Hy het haar later ten minste twee keer in die traumakamer besoek.
Soldaat het aangevoer dat die meisie hom gekomplimenteer het oor die kleur van sy oë. Hy het gesê toe hy toenadering gesoek het, het sy haarself aanvanklik nie teëgesit nie, maar toe hy haar klere wou uittrek, het sy teen hom baklei.
Hy het haar oorweldig en in die traumakamer verkrag en haar daar gelos.
Die meisie is die volgende dag terug huis toe en het haar ma vertel wat gebeur het.
Aanvaller uitgewys
Die meisie kon haar aanvaller aan die polisie uitwys en Soldaat is in hegtenis geneem. Die staat het borgtog teengestaan, maar die hof het dit toegestaan.
Soldaat het tydens die hofverrigtinge volgehou dat hy en die meisie vrywillige gemeenskap gehad het en dat hy “nie bewus was” van haar [minderjarige] ouderdom nie.
Adv. Koert het hom daarvan besluldig dat hy die plek waar slagoffers veronderstel is om veilig te voel, in ‘n misdaadtoneel verander het.
Hy het gevra dat die hof die vertroue van die gemeenskap weer herstel, sodat slagoffers in die toekoms weer veilig sal voel en misdaad kom aanmeld sodat reg kan geskied.
• Die vonnis van 25 jaar het dadelik ná die uitspraak begin.



