‘n Moordverdagte verskyn na verwagting vandag (Donderdag 17 Oktober) in die Worcester-landdroshof nadat hy na bewering ’n 39-jarige man Maandagmiddag (14 Oktober) helder oordag voor ’n mediese praktyk in Fairbairnstraat, Worcester, met ‘n skerp voorwerp doodgesteek het.
Die oorledene is Gavin Selani van OVD in Worcester.
AO Vathiswa Jacobs, ’n polisiewoordvoerder, sê die polisie het Maandag omstreeks 13:50 ’n oproep ontvang dat iemand met ’n skerp voorwerp aangeval is. Met die polisie se aankoms op die toneel het hulle op ’n man op die sypaadjie voor die praktyk afgekom. Jacobs sê die gewonde man het in daardie stadium reeds geen teken van lewe getoon nie.
Nooddienspersoneel het hom op die toneel dood verklaar.
Jacobs sê Selani is in die bors gesteek nadat hy en ’n onbekende man vroeër stry gekry het.
Die verdagte is Dinsdagmiddag (15 Oktober) in hegtenis geneem.
Enigeen met inligting oor die voorval kan die ondersoekbeampte in die saak, AO Rivah Readien, by 082 469 5963 bel.

