Die De Doorns-polisie het die gemeenskap se hulp nodig met ’n moordsaak.
’n Man en vrou het Vrydag 10 Februarie in ’n koeëlreën beland terwyl hulle in Stofland gery het.
“Die man, wat glo ’n taxi- eienaar was, en sy vrou het in sy bakkie gery. Sy vrou verduidelik dat sy skielik skote van haar man se kant af hoor klap het. Albei van hulle is ’n paar keer getref en die man het aan sy vele wonde beswyk,” verduidelik ’n woordvoerder van die De Doorns-polisie.
Die oorledene se vrou is in haar maag en regterboud gewond terwyl die oorledene skietwonde aan onder meer sy kop, bolyf en onder sy blad gehad het.
Die saak is egter eers in die oggendure van Saterdag 11 Februarie by die Worcester-polisiekantoor aangemeld nadat die slagoffers na die Worcester-hospitaal geneem is.
“Die hospitaal het die polisie in kennis gestel van die moord nadat die oorledene asook sy gewonde vrou met private vervoer na die hospitaal geneem is,” verduidelik die woordvoerder.
Die saak is eers later na De Doorns se polisiekantoor oorgeplaas vir ondersoek.
“Toe ons beamptes op die toneel aankom, het dit geblyk dat die toneel skoongemaak is. Ongeag al die skote wat afgevuur is, is net een patroondoppie op die toneel gevind.
“Niemand het nog by die De Doorns-polisie die saak aangemeld nie. Nie eens die mense in wie se Wendyhuisiedie bakkie beland het toe die bestuurder nie verder kon ry nie.”
Die woordvoerder voer verder aan dat die oorledene, Sithembiso Elefu, van naby geskiet is.
“Die oorledene se familie het hom en sy vrou self na die hospitaal gejaag. Dit is egter nog in hierdie stadium onbekend of die skietery enigsins met taxigeweld te doen het.”
. Enigeen met inligting oor die voorval kan die De Doorns-polisie skakel by 023 356 4020.


