Die polisie in Worcester het verlede week as deel van sy Veiliger Feesseisoen-veldtog in twee afsonderlike voorvalle beslag gelê op drie vuurwapens en ammunisie.

Volgens AO Vathiswa Jacobs, polisiewoordvoerder, is ’n vermeende bendelid Donderdag (14 November) in Buitekantstraat, Riverview in Worcester in hegtenis geneem vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Jacobs sê polisiebeamptes was die aand van die inhegtenisneming besig met patrolliewerk by die Riverview-woonstelle, toe hulle ’n verdagte opgemerk het.

Jacobs sê met die verdagte se toestemming het die polisie hom deursoek en in sy besit twee .38 Special- rewolwers gevind. Een van die vuurwapens is in Montagu as gesteel aangemeld. Die tweede rewolwer het geen eienaarskap getoon nie.

Verskeie rondes ammunisie is ook in sy besit gevind.

Volgens Jacobs het die polisie die verdagte gewaarsku oor die klagtes teen hom, waarna hy in hegtenis geneem is.

Sy sê op Dinsdag 12 November was polisiebeamptes besig om hulp te verleen by ’n moordtoneel in Roodewal.

Volgens Jacobs het die beamptes vier mans op die hoek van Essopstraat gewaar. Die beamptes het hulle deursoek, maar niks verdag is gevind nie.

Terwyl die beamptes besig was om die gebied verder te fynkam vir leidrade, het hulle op die erf van ’n huis in Moosastraat, Roodewal afgekom op ’n swart .38-rewolwer met drie skerp patrone in die magasyn van die vuurwapen.

Volgens Jacobs is die betrokke vuurwapen glo vroeër in Montagu gesteel. Sy sê een van die vier mans wat vroeër deursoek is, het weggehardloop. Die ander drie mans is polisiekantoor toe geneem vir vingerafdrukke.

Niemand is egter nog in hegtenis geneem nie. Enigeen wat die polisie kan help, bel die Worcester-polisiekantoor by 023 348 8605.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article