By die aanplant van die roostuin Saterdag was (agter van links) Julian Kritzinger (raadslid, wyk 7), Rita Louw (raadslid), Esmé van der Westhuizen (wyk 6), Dawid Slingers (die superintendent van die Breedevallei- munisipaliteit se parke-afdeling), Ina Dalton, Rose Govender, Johan Louw, Hannetjie Jordaan, Sammy Govender en Koos Botes. Voor is Lodewyk Goliath, Angelique Morkel, Debbie Minnaar, dr. Danelle van Tonder en Tiana Botes. Foto: Enrico Claassen


Lede van Worcester Plantjieklub het Vryheidsdag (Saterdag 27 April) op ’n unieke manier gevier toe hulle ’n nuwe roostuin aan die onderpunt van die middelman by die De la Bat- en Rouxweg-kruising in Worcester aangeplant het.

Angelique Morkel het die klub in 2022 op die been gebring. Sedertdien het dit met meer as 50 lede gegroei.

Haar visie is om almal wat lief is vir die natuur en tuinmaak, bymekaar te bring sodat hulle onder meer raad, plante asook groeitegnieke onder mekaar kan uitruil en by mekaar kan leer sodat hierdie liefde vir die natuur in die gemeenskap kan uitkring en almal kan help om die dorp mooi te maak en saam ’n verskil te maak.

Morkel se idee vir Vryheidsdag was om ’n gemengde roostuin aan te plant, bestaande uit 42 geel rose, perske-kleurige rose, verskillende skakerings van pienk rose en rooi rose, tesame met koorsbome, wat die nodige skaduwee kon verleen.

Sy sê die beplanning vir hierdie projek het reeds meer as ’n jaar gelede begin. Die belangrikste beginpunt was egter om die nodige getal roosplantjies te kry.

’n Lid van die klub – wat verkies om anoniem te bly – besit ’n roostuin met meer as 400 rose. ’n Jaar gelede is begin om solank van haar roos-steggies in te lê, wat dan by die kruising geplant kon word.

Morkel sê die besproeiing was ’n groot uitdaging omdat die aanvanklike kwotasies wat gekry is, te hoog was. ’n Lid van die klub, Ina Dalton, en Monica Dalton het toe begin lootjies verkoop om die koste vir die installering van sewe besproeiingslyne te dek.

Volgens Morkel het die publiek op dié manier meer as R7 500 tot die projek bygedra. Die anonieme lid en haar tuinhulp het gehelp om die besproeiing geïnstalleer te kry.

Rose Govender, nog ’n lid van Plantjieklub, sê die uitleg van so ’n groot roostuin was “self ’n groeiproses vir Worcester Plantjieklub”.

Sy sê sy hoop dié projek sal in die toekoms tot vele ander lei.

Nadat die roostuin Saterdag aangeplant is, is die gelukstrekking van die 150 lootjies wat verkoop is, gedoen. Ene Enid was die wenner van ’n R1 000-koopbewys van Foodlover’s Market, terwyl ene R. van Wyk ’n R500-koopbewys van Kwikspar Breedevallei gewen het.

Verlede week het die Plantjieklub Iceberg-rose en salieplante aan die De la Bat-swembad geskenk. Dit is reeds onder die prieel-ingang na die swembad geplant.

Morkel sê die klub beplan om ook skadubome aan die swembad te skenk en heiningplante vir die aanplant van ’n heining aan die agterkant van die swembad.

’n Entoesiastiese Morkel sê die volgende groot projek wat sy en haar span wil aanpak, is om die roostuin voor die gebou van die brandweerdiens “weer ’n bietjie oemf te gee”.

Sy sê die geel rose voor die brandweer is mooi en wil sy net ’n bietjie nuwe lewe in die roostuin blaas sodat dit weliger kan lyk.

Ina Dalton, ook ’n lid van die klub, sê die Plantjieklub beplan om later vanjaar ’n kunsvlytmark te hou waar hulle plantjies en plantprodukte gaan verkoop, asook boereworsrolle – alles in ’n poging om geld vir toekomstige projekte in te samel.

Morkel vra die publiek en buurtwagte om tog ’n ogie oor die roostuin te hou om en te verhoed dat booswigte dit vandaliseer. Enigeen wat meer oor die Plantjieklub wil weet of betrokke wil raak, kan haar by 076 619 4426 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article