De Doorns gaan eersdaags ’n nuwe baadjie kry wanneer gedeeltes van die dorp moontlik oorgeverf gaan word.
Volgens Graham Abrahams, die voorsitter van die Hexriviervallei-erfenis- en bewaringsvereniging en die persoon wat met die idee vorendag gekom het, is De Doorns ’n strategiese en lewendige dorp en is dit die rede dat daar planne beraam word om die sowat 1 000 strukture in die dorp te verf.
Volgens hom is die idee om De Doorns soos “ons eie Bo-Kaap” te laat lyk en sê die Hexriviervallei-erfenis- en bewaringsvereniging kry ook hulp met dié projek.
“Ons het twee hoofborge van twee Suid-Afrikaanse maatskappye gekry, onder andere Medal Paints (Edms) Bpk en Kaap Agri (Edms) Bpk, om hierdie projek van stapel te stuur. Dus, ons idee om ons eie “Bo-Kaap” in die Hexriviervallei te skep deur ons inisiatief het nou ’n werklikheid geword,” voer hy aan.
Hy noem die voltooiingsdatum om De Doorns oor te verf is Maandag 18 Julie is, wat Nelson Mandela se verjaardag en internasionaal erkende Mandeladag is.
“Mandeladag is immers ’n wêreldwye oproep tot aksie. Ons ‘67 minute van liefdadigheid’ sal kinders insluit, wat die afronding aan die geboue gaan doen. Ons sal die feit vier dat, terwyl elke individu die vermoë het om ’n verskil te maak, ’n gemeenskap wat saamstaan die mag het om ’n beduidende internasionale impak te maak.
“Die idee is dat hierdie transformasie formeel as voltooi verklaar word op hierdie baie spesiale dag, wat die persepsie skep dat ons die gesig van De Doorns in ’n enkele dag verander het en op ’n skaal wat nog nooit tevore gedoen is nie,” sê Abrahams.
Volgens hom sal die projek begin met die voorbereiding van die huise en geboue.
“Ons gaan begin om die huise en strukture in Stofland, Orchards en GG-kamp eerste te verf. Daarna sal ons na die sakekern van De Doorns uitbrei. Al hierdie werk gaan onder die wakende oog van die rolspelers en ankerborge plaasvind. Ons glo ons kan ’n verskil in die gemeenskap maak,” het Abrahams gesê.




