Die Kerskoor-rolprent Old Righteous Blues, wat op plaaslike gebeure in die Langeberg-vallei gegrond is, is deur Suid-Afrika benoem om dié land in die afdeling Beste Internasionale Rolprent by aanstaande jaar se 97ste Oscar-toekennings te verteenwoordig.

Die rolprent is gegrond op ’n werklike gebeurtenis wat hom destyds in Robertson afgespeel het.

Old Righteous Blues is in die Robertson-omgewing verfilm. Tonele is ook in 2022 in die Bolandpark-stadion in Worcester opgeneem.

Die storie wentel om Hantjie Jansen, wat – toe hy hoor dat sy oom, Jacques, op die punt is om uit te tree as drom-majoor in die dorp se Kerskoor – geweet het sy (Hantjie se) kans het gekom.

Hy is gebore om drom-majoor te wees en is seker hy sal by die proewe gekies word. Dit is sy droom en hy het sy hele lewe lank daarvoor geleef.

Maar dinge werk toe glad nie so uit nie. Toe Hantjie doelbewus opsygesit word vir iemand wat minder talentvol is, besef hy dat hy en sy hele gesin die prys betaal vir ’n besluit wat sy pa baie jare gelede geneem het – ’n besluit wat die koor in twee geskeur en die gemeenskap verdeel het.

Hantjie sal nou die spoke van die verlede moet konfronteer en die korrupte leierskap van die Kerskoor takel, wat nie net sy toekoms met die Kerskoor, waarin hy en sy gesin gebore is, in gevaar stel nie, maar ook sy aansien in sy gemeenskap.

Robertson se Carol Shaw is die draaiboekskrywer en medevervaardiger van die Kerskoor-rolprent Old Righteous Blues.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article