ATKV-Crescendo het onlangs die finaliste vir sy musiek-mentorskapprogram aangewys.

Ná ’n week van evaluering is 22 finaliste aangewys vir die ATKV-mentorskapprogram wat van 30 Maart tot 6 April in die Paarl sal plaasvind.

Deelnemers kon hul oorspronklike liedjies digitaal inskryf of oudisies doen by ATKV-Crescendo se talentsoekers in die Tuinroete, Klein-Karoo, Weskus, Atlantis of Worcester.

Vanjaar is daar ook vir die eerste keer oudisies in Namibië gehou, wat twee finaliste opgelewer het.

Gershwin Koen, radiopromotor en vervaardiger, wat saam met twee vorige Crescendo-finaliste, Olga Leonard en Deon Meiring van Glaskas, die digitale inskrywings beoordeel het, vertel dat dit gewis nie ’n maklike taak was nie.

“Daar is soveel talent daarbuite – inspirerende liedjieskrywers, pragtige melodieë en die mooiste stemme.”

Plaaslike deelnemers wat finaliste is, sluit in:

. Jo-Ann Albertus (32) van Wolseley, ’n menslike-hulpbron-beampte wat jare lank aan verhoogvrees gely het;

. Denryck Davids (aka Davy, die Drrrrrk), 26, van McGregor, ’n talentvolle kunstenaar en Breyten Breytenbach-aanhanger;

. Tamryn Paulse (31) van Wellington, ’n pastoor met ’n passie vir musiek en hoe dit mense se harte raak;

. Mark Pekeur (21) van die Paarl, ’n dramastudent wat sy storie deur musiek en teater vertel; en

. Feliciano Arendse (aka Linzi), 43, ’n musiekprodusent van Walvisbaai, wat geïnspireer word deur onder andere Michael Jackson, Steven Spielberg, Danny Elfman en Spoegwolf.

Die mentorskapprogram bestaan uit ses dae se intensiewe opleiding deur van die grootste name in die Afrikaanse musiekbedryf. Daar word nie net musikale mentorskap in die vorm van melodie- en liriekontwikkeling gegee nie, maar deelnemers word ook touwys gemaak in handelsmerkontwikkeling, bemarking en entrepreneurskap.

Gershwin Koen se kursus bevat praktiese wenke oor hoe om ’n liedjie te skryf wat geskik is vir radio. “ ’n Liedjie kan miskien vir jou goed wees, maar dit beteken nie noodwendig dat dit gaan werk vir radio nie.”

Deon Meiring, wat ook ’n mentor in vanjaar se program gaan wees, vertel dat hy dit geweldig geniet om met mense te werk wat nou met hul musikale reis begin.

“ATKV-Crescendo is nie ’n talentkompetisie nie,” verduidelik Morné van Staden, projekorganiseerder.

“Ons filosofie is dat talent nie gegee is om teen mekaar mee te ding nie, maar eerder om mekaar op te bou en te versterk.”

Die inhoud van die program is daarop gemik om finaliste met die nodige kennis, vakmanskap en integriteit toe te rus sodat hulle hul musiekloopbaan suksesvol kan begin.

Van Staden is opgewonde oor die gehalte en diversiteit van inskrywings wat ontvang is.

“Ek sien baie uit na die mentorweek – om mense te sien groei en hul vreugde en blydskap tydens die konsert aan die einde van die program te deel,” sê Van Staden.

As deel van die week moet deelnemers soms opdragte voltooi soos om binne ’n uur hul eie liedjie(s) te skryf.

Die musikant en mentor Petronel Baard verseker deelnemers dat die mentorskapprogram ’n veilige omgewing vir sulke kreatiewe uitdagings is.

“Die hele proses is daarop gemik om al die skakerings van die deelnemers se kunstenaarskap te ontgin. Dit gaan eerstens oor die mens, en dan oor die musiek.”

Aan die einde van die week word ’n afsluitingskonsert gehou waar die finaliste ’n kans kry om hul oorspronklike liedjie saam met die ATKV-Crescendo-orkes uit te voer. Uit hierdie finaliste word ’n paar gekies wat deur die res van 2025 verdere mentorskapprogramme gaan bywoon en die geleentheid sal kry om in ATKV-Crescendo-produksies op te tree. Sommige kry ook die kans om liedjies, albums en musiekvideo’s op te neem.

Inskrywings vir 2026 se mentorskapprogram is reeds oop – tot 31 Desember 2025.

Olga Leonard, ’n beoordelaar, moedig belangstellendes aan. “Dit het my lewe verander. Dieselfde kan vir jou gebeur.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article