Boland se o.17- Plattelandse span het geskiedenis gemaak deur Krieket SA se Plattelandse toernooi wat van 5 tot 8 Desember in Mbombela (Nelspruit) plaasgevind het, te wen. Boonop was daar leerders van Worcester onder leiding van die hoofafrigter, Ryno Arendse (ook van Worcester), in dié seëvierende span. Verlede jaar het Boland ook na die eindronde deurgedring, maar toe ongelukkig teen OP vasgeval.
Hul eerste wedstryd was teen KwaZulu-Natal se Binnelandse span wat hulle met 70 lopies geklop het. In hul volgende wedstryd klop hulle Vrystaat met 3 paaltjies waarna die derde wedstryd teen KZN se Kusstreekspan weens reën afgelas moes word. In die halfeindstryd klop hulle Noord-Kaap se span met 5 paaltjies en in die eindstryd klop hulle Limpopo met 2 paatjies om as kampioene met hul wennersmedaljes en trofee huiswaarts te keer.
Die ses spanlede van Worcester in die span was: Karel Hugo, Adriaan Krynauw en Bryan Cochrane (wat ook die onderkaptein van die span was), wat almal van HTS Drostdy is. Therenzo Jacobs van Worcester Sekondêre Skool, Noah Goliath van die Hoërskool Vusisizwe en Rossouw Matthee, ook van Worcester, maar wat by Charlie Hofmeyr in Ceres skoolgaan. – Alver Uys






