‘n Roetine padblokkade wat die Worcester-polisie se honde-eenheid Donderdagmiddag (21 Augustus) saam met die verkeersafdeling gehou het, het ‘n stinkerige vonds opgelewer toe hulle op sakke vol perlemoen afkom.

‘n Mercedes Benz-vragmotor is 17:00 op die N1-snelweg net buite die dorp naby die ou Ultra City afgetrek, nadat die polisie inligting ontvang het dat daar moontlik perlemoen vervoer word. Die vragmotor is deursoek en die polisielede het op bruin gestreepte sakke afgekom wat ‘n sterk reuk gehad het.

Die sakke het ‘n skerp reuk gehad en die polisielede het besef dat daar perlemoen in is. Foto: verskaf

“Die polisielede het die sakke oopgemaak en besef dat daar perlemoen in is. Hulle het die 46-jarige verdagte gevra om saam met hulle na die polisiekantoor te kom, waar hulle die perlemoen ten aanskoue van die verdagte getel het. Daar was 2 271 eenhede,” het AO Vatishwa Jacobs, die woordvoerder, gesê. Dit het ‘n geraamde waarde van R1,8m.

Suid-Afrikaanse perlemoen (Haliotis midae) kom slegs hier voor en is die grootste van die spesie. Dié plat seeslak het ‘n hoë markwaarde wat daartoe lei dat ‘n hele industrie van onwettige oes en smokkel ontstaan het, volgens die Suid-Afrikaanse webwerf Corruption Watch. Arm gemeenskappe desperaat vir ‘n inkomste word dikwels hierby betrek, omdat die perlemoen maklik is om te oes.

‘n Verslag deur die Wildlife Justice Commission sê dat daar na beraming meer as 96 million perlemoen in ‘n tien jaar tydperk van 2006 tot 2016 gestroop is, met 90% daarvan wat vir die mark in Hong Kong bestem is. Perlemoen is ‘n gesogte lekkerny in groot dele van Asië. Die kommissie beweer dat Chinese kriminele netwerke betrokke is by perlemoenstropery, wat perlemoen by plaaslike bendes wat betrokke is by stropery, kry. Dié perlemoen word glo tipies in onwettige prosseseringsfasiliteite gedroog, voordat dit in vragmotors versteek word en oor die grens na Namibië, Zimbabwe of Mosambiek vervoer word. Van daar af word dit na Asië toe versprei.

Meer as 2 000 stuk perlemoen is in die vragmotor gekry. Foto: verskaf

Volgens die kommissie se verslag is daar ‘n noue band tussen perlemoensmokkelary en die handel in dwelms en ander wildleweprodukte soos renosterhorings, met dwelms wat dikwels in ruiltransaksies gebruik word. Korrupte regeringsbeamptes is ook voorheen by van die gevalle betrek.

Die Wes-Kaapse regering bereken dat dié onwettige perlemoenhandel die land na raming tot soveel as R1 miljard ‘n jaar in ‘n verlies aan inkomste kos.

Die verdagte is in hegtenis geneem op klagtes van die onwettige besit van perlemoen. Hy sal op Maandag 25 Augustus in die landdroshof in Worcester verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article