Die koste van vrouwees in vandag se wêreld lê dieper as net in die beursie.
Of om meer spesifiek te wees, die koste daarvan om te wees wat “aanvaarbaar” is vir die wêreld daar buite, kom dikwels teen die leningsrekening van jou eie selfwaarde.
Meermale skiet jou eie prentjie ver tekort en voel jou emosionele welstand soos dié van jou kredietkaartrekening ná die Desembervakansie. Oortrokke en totaal en al uitgeput.
Daagliks word elke vrou wat oë, ore en verstand het, gebombardeer met beelde van “die perfekte vrou”. Oor die feestyd neem die bombardering die formaat van ’n blitzkrieg aan.
Vlekkelose velle, vetvrye heupe, plat magies en dik glansende hare staar vanuit bykans elke tydskrifrak en televisieskerm na ons.
“Koop dié room. Smeer dit aan. Spuit daai op jou kop.”
Dit terwyl ons gewone vroue uitasem en uitgeput van die werk af in die winkelsentrums loop (nee, hardloop!) met ons drilboude, oorhang-en-geboortegeskenk-mae en dubbelkenne. Voeg daarby strespuisies toegesmeer onder uitverkoping-onderlaag. Want dit is die werklikheid vir die meeste van ons.
Onlangs doen ’n interessante webartikel die ronde. Dit bevat tientalle foto’s van sterre en bekendes voordat die jong (ek is seker in hul twintigerjare) fotodokters in diens van tydskrifte of beeldpoetsmaatskappye dit beetgehad het.
Die vooraf-foto’s was skokkend. Nie skokkend omdat dit lelik was nie, maar skokkend omdat my idee van hoe Madonna lyk – dit wat deur haar goedgeoliede beeldpoetsmasjien aan my voorgehou word – en hoe sy werklik lyk, uitspanselbreed van mekaar verskil. Plooie en sakke onder die oë. Net so outentiek soos jou eie ouma s’n.
Die beeldskone Cindy Crawford het nie veel beter gelyk voor haar poetsbeurt nie. Hoewel sy steeds baie goed lyk vir ’n vrou van 50, het haar vooraf-foto duidelik gewys haar magie moes oor ’n paar kinders rek. Siem-salabiem, weggetoor in haar agterna-foto.
As dit vir die res van ons plebs maar net so maklik was. Maar die werklikheid is dat dit vir ons ’n konstante stryd geword het tussen dit wat die samelewing van ons as vrou vereis en dit waartoe ons in staat is.
Die werklikheid van kinders baar, grootmaak, werk en ons lewe bymekaar hou, meng in met die ideaal.
Daarom is dit elke vrou se plig om nie meer om te gee oor die tydskrifte en die advertensies nie. Ons as susters moet mekaar genadig wees. Ons moet mekaar liefhê, onderskraag en ondersteun soos ons is, in alle vorms en groottes.
Ons moet mekaar aanmoedig om gesond te leef, gesond te eet en te oefen. Maar ook om die lewe te geniet met ’n glas wyn en ’n sny koek.
Nie omdat ons mooi wil wees soos die Cindys en die Madonnas van die wêreld nie.
Omdat ons dit aan onsself verskuldig is om ons lywe en ons siele op te pas om die lewe se berge te kan uithardloop.





