Die onthulling van die onlangse “No Exhaust Brakes”-borde in Hoogstraat in die omgewing van die Laerskool Worcester-Oos: Van links is Vernon Bedworth van Wyk 12, Juben von Willingh (onderburgemeester en BVM-burgemeesterskomiteelid vir verkeer), Palesa Ramokhabi, Jacoba Bradbury (wykskomiteelid van Wyk 7), dr. Julian Kritzinger (Wyk 7) en Margaret Swart (wykskomiteelid van Wyk 7). Afwesig: Desmond de Koker (wykskomiteelid van Wyk 7) omdat hy in rolstoel is en dit nie toegang tot die middelmannetjie gehad het nie). Foto: Adrian Manuel


Paglande se inwoners kan ’n sug van verligting slaak noudat die Breedevallei se heel eerste “No Exhaust Brakes”-borde in Hoogstraat aangebring is.

Worcester lê op etlike belangrike deurgangroetes, wat veral deur swaar vragmotors gebruik word.

Hierdie swaar vragmotors gebruik dikwels hul lugremme om spoed te verminder, en dit veroorsaak ’n groot lawaai en steurnis vir al wat leef en beef in die omgewing van dié deurgangsroetes, des te meer waar skole ook in die omgewing is.

Ander dorpe waardeur sulke deurgangsroetes loop, het borde opgerig om geraasbesoedeling te help keer. Een dorp, wat veral die leiding in hierdie verband geneem het, is Knysna, waar streng in sulke gevalle opgetree word.

’n Woonbuurt wat veral onder hierdie vorm van geraasbesoedeling gebuk gaan, is Paglande, omdat die woonhuise teenaan Hoogstraat gebou is en omdat Riebeeckstraat, Hoogstraat en die Robertsonpad geproklameerde provinsiale paaie is.

Hierdie kort entjie wat swaar vragmotors deur Paglande ry, het drie kruisings waar hulle moet stop – en gevolglik dreun die voertuie se lugremme gedurig.

Die feit dat hierdie pad die hoofroete aan hierdie kant van die berg is wat die N1 en N2 met mekaar verbind, vererger die probleem.

Wyk 7 se wykskomitee het vervolgens onlangs hard daarvoor baklei dat Breedevallei se eerste “No Exhaust Brakes”-borde opgerig moet word.

Die behoefte was op wyk 7 se lys van geïntegreerde-ontwikkelingsplan­behoeftes en het nou tot uitvoer gekom. Van al die wyke in Worcester word Wyk 7 die ergste deur hierdie probleem geraak.

Die hoop is dat sulke borde in die nabye toekoms ook in Hoogstraat by Meiringspark en in Rouxweg opgerig sal word.

Iwoners wat gewaar dat ’n swaar vragmotor sy lugremme in ’n residensiële buurt gebruik, word aangeraai om die registrasienommer neer te skryf of die voertuig af te neem en die inligting soos die datum, tyd en plek van die oortreding aan die BVM deur sy 24-uur-inbelsentrum deur te stuur na ssc@bvm.gov.za, sodat dit aan die BVM se afdeling wetstoepassing deurgegee kan word, wat dit verder sal hanteer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article