Die BVM hoop booswigte sal nie die nuwe padtekens weer teiken nie en vra die publiek se hulp deur voorvalle van vandalisme aan te meld.


Die omstrede verkeersirkel net buite die dorp op die R60 tussen Worcester en Robert­son is ’n probleempunt wat die munisipaliteit tans wil oplos.

Standard het verlede week berig oor ’n botsing by die einste sirkel, waarin ’n geliefde inwoner sy lewe verloor het.

Die Breedevallei-munisipa­liteit het bevestig hy is bewus van probleme by dié verkeer­sirkel.

Inwoners kla hierdie sirkel is veral snags uiters gevaarlik aangesien padtekens nie sigbaar is nie en die beligting in die omgewing maar dof is.

Standard het self ondersoek gaan instel tydens beurtkrag en gesien hoe bestuurders hulself net-net uit ’n moontlike verknorsing kry wanneer hulle die sirkel nader.

“Ek het die ander aand net ná 20:00 van Robertson af gekom. Daardie sirkel was pikdonker en het slegs een padteken wat jy kry as jy feitlik op die sirkel is en wat dan as waarskuwing dien. Iemand wat 100 tot 120 km/h ry en nie van die sirkel weet nie, staan nie ’n kans om veilig anderkant uit te kom nie,” skryf Johan Mostert aan Standard.

Chad Malgas, ’n woordvoerder van die BVM, het aan Standard gesê hulle sit met geweldige uitdagings met betrekking tot vandalisme en diefstal in die gebied.

“Ons het die waarskuwingsborde al talle kere vervang en herstel nadat kwaaddoeners dit gevandaliseer of iemand dit gesteel het. Dit is vir ons ’n groot uitdaging,” sê Malgas.

Ligte in die gebied word ook soms stukkend gegooi en selfs wetstoepassers en die plaaslike polisie is betrek om die gebied te monitor – veral nadat talle motoriste al gevalle van klipgooiery op die pad aangemeld het.

Die BVM het verlede week weer die waarskuwingstekens vervang.

“Nuwes is opgerig en ons kan net hoop dat dit opgepas en gerespekteer sal word. Ons vra die publiek nederig om sulke waardevolle goed op te pas en enige vorm van diefstal of vandalisme aan te meld.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article