Nog ’n aksiebelaaide sagtebal-krieketwedstryd is in Robertson gespeel, met die seisoen wat nou sy einde nader.
In die eerste wedstryd van die dag pak Pen United vir Dorpsig Barbarians. Dorpsig Barbarians kolf eerste en word almal uitgeboul vir 43 lopies.
H. Meyer staan uit met die kolf met tien lopies. Die beste boulers vir Pen United was M. Koert 2/13 en A. Stevens 2/11.
Pen United op sy beurt veg tot die bitter einde met paaltjies wat kort-kort verloor word, maar wen die wedstryd met twee paaltjies – 44/8.
“Pang Yaya” was met nege lopies Pen United se beste kolwer; H. Meyer 4/14 was Dorpsig se beste bouler.
New Orleans t Royals
In die hoofwedstryd van die dag kolf Royals eerste en bereik ’n indrukwekkende 143 lopies in sy toegelate 20 boulbeurte.
Chad Januarie (63) was Royals se beste kolwer. G. Paulse 2/19 en J. Speelmal 2/31 was Pen United se beste boulers.
New Orleans, wat slegs een punt benodig het om vir die uitspele te kwalifiseer, behaal ’n bonuspunt vir die wedstryd hoewel almal uitgeboul word vir 110 lopies.
L. Adams (20) was New Orleans se beste kolwer. Januarie 3/18 was Royals se beste bouler.
Royals wen die wedstryd met 34 lopies.
Komende Sondag (12 Mei) sal Royals, New Orleans, Superstars en Tornado’s kragte meet vir ’n plek in die halfeindstryd met die spanne van Panorama, Die Stoep en Pen United wat reeds hul plek bespreek het.
Wedstryde op 12 Mei:
12:00 – Superstars t New Orleans
15:00 – Tornado’s t Royals

