Talle bejaardes in die streek gaan Donderdag 9 Maart weer hul staal wys tydens die Breedevallei-bejaardesforum (BBF) se jaarlikse sportdag.
Die BBF is ’n forum wat hom toespits om bejaardes in die streek by te staan en projekte aan te bied wat hulle aanmoedig en motiveer.
“Ons wil ons bejaardes help en wys hulle kan nog enigiets doen wat hulle wil. Ons help hulle om kwessies in die gemeenskap die hoof te bied en skenkings in te win om ons bejaardes te help. Hierdie sportdag is elke jaar ’n fantastiese geleentheid vir ons bejaardes om te kan deelneem,” sê Beaulah Vlok, ’n lid van die forum.
Sy sê die meeste dienssentrums in die Breedevallei is deel van hierdie forum en ook hierdie sportdag.
Die atletiekdag, wat baan- en velditems insluit, moedig bejaardes aan om hul bes te lewer en dalk versteekte talente te ontdek.
Vlok sê bejaardes kry dan sommer die geleentheid om lekker aktief te wees.
“Die gees is altyd lekker en hier identifiseer ons bejaardes wat aan die jaarlikse Golden Games wil deelneem. Van ons mense het al nasionaal gaan deelneem, en vir talle is dit die eerste keer dat hulle ver reis of selfs in ’n hotel oornag. Dit is ’n fantastiese geleentheid vir hulle.”
Die sportdag sal by Bolandpark aangebied word. Die opwinding begin om 09:00 en inwoners word gevra om die bejaardes te kom ondersteun en aan te moedig.
“Dit sal soveel vir ons beteken as mense na hulle kan kom kyk en hulle aanpor om deel te neem. Ons mensies benodig soms hierdie ondersteuning,” voeg Vlok by.
Toegang is gratis en enigeen wat wil betrokke raak of dalk skenkings wil bied, kan Vlok by 072 263 5200 bel.





