Vir drie groepe wesens sal ek voor ’n stootskraper gaan lê: Bejaardes (gaaf óf kwaai), kinders (soet óf stout) en honde (mooi óf lelik). Dis nie dat ek die genoemde mense aan honde gelyk wil stel nie – nee, al drie groepe het ’n spesiale, pasgemaakte plek in my hart.
Iets wat al drie egter in gemeen het, is hul weerloosheid – teen die natuur in al sy felheid, teen misdadigers, en as dit by kinders kom, teen volwassenes. Dis te vreeslik, soos ons tuinman altyd sê as hy ’n slang of ’n spinnekop tussen die bossies kry. Ja, grootmense mishandel kinders, bejaardes en les bes, honde.
Ek kon nog nooit, ooit verstaan hoedat enigiemand bejaardes, kinders of honde leed kan aandoen nie. Ek meen, dis tog geen prestasie om ’n oumens te beroof nie; ook nie om ’n kind te bedrieg of ’n hond te mishandel nie.
Wat loop in ’n samelewing verkeerd as hierdie soort dade maar oukei is? Leer ons kinders dan nie waardes by hul ouers nie? Is dit dalk ’n geval van aansien onder jou eie portuurs verwerf as jy kan spog met hoe jy daai tannie met ’n mes van haar handsak beroof het, of oor die kind wat jy vir jou eie duistere redes ontvoer het, of die hond wat jy aan ’n tou van ’n brug af laat hang het as straf?
Waar (en wie en wat) is ons mense se morele kompas dan? Is Suid-Afrika dan nie ’n Christelike land nie? In Boeddhistiese lande hoor ’n mens selde van ’n moord of ’n rooftog.
Wat het geword van ouers wat vir kinders waardes en maniere moet leer? Dis jammer, maar ongelukkig wys die vinger na ons as volwassenes.
Glo my, as oud-onderwyser weet ek kinders doen presiés wat hul ouers doen – nie noodwendig wat hul ouers sê hulle moet doen nie.
Onwetend modelleer grootmense elke dag, elke minuut, elke uur aan kinders hoe om te lewe. Ja, ons is almal akteurs wat deur die samelewing se kinders dopgehou en nageboots word. As ma vir pa slaan en op hom vloek, gaan die kinders dit ook doen. As pa die hond skop, ditto. En as ma op die oumagrootjie langsaan vloek, hoor en sien die kinders dit.
Daarvan lei hulle af ’n mens het die reg om geen respek vir bejaardes te hê nie. Hulle aanvaar dis heeltemal reg en normaal dat pa en ma handgemeen raak en mekaar uitvloek. En as pa die hond skop, beteken dit seker maar dis die regte ding om te doen.
Helaas, ons as grootmense staan hier in die nuwe jaar opnuut in die beskuldigdebank. “Skuldig, edelagbare!”
Te veel van ons versuim om ons kinders die waardes te leer wat ons graag in die samelewing tussen mense wil waarneem.
En, as ek dan ter verdediging van bejaardes, kinders of honde voor ’n stootskraper moet gaan lê, is dit eintlik die grootmense in die gemeenskap se skuld. Dis óns wat nie ons kinders reg grootmaak nie. Ja, óns moet die skuld kry vir die gruwels wat teen oumense, kinders en honde gepleeg word.
Because charity begins at home!


