Ouers van Hexvallei Sekondêre Skool in De Doorns wag steeds vir amptelike terugvoering van die Wes-Kaapse onderwysdepartement oor hul jongste griewe.

’n Groot groep ouers het in Julie voor die skool betoog weens hul ongelukkigheid oor die manier waarop die skoolhoof sekere dinge doen.

Standard het destyds met Pat Januarie gepraat, wat ook ’n lid van die beheerraad was.

Hy het verskeie redes verskaf waarom hulle betoog, en dit het ingesluit wanbesteding van die skool se geld, kontrakte wat glo sonder die beheerraad se kennis toegestaan is, en kinders wat nie eksamens voltooi het nie.

Die WKOD het destyds bevestig klagtes is al voorheen teen die hoof gebring en hy is destyds geskors, maar hy het sy appèl gewen en is weer aangestel.

Standard het by navraag van Januarie weer met die WKOD in verbinding getree rakende die vordering van die huidige ondersoek en het die volgende terugvoering ontvang: “Die skoolhoof het wel ’n verhoor in die gesig gestaar en is ’n sanksie opgelê. Hierdie sanksie is nie geïmplementeer nie aangesien die opvoeder appèl aangeteken het. Ons wag op die uitslag van die appèl. Die WKOD het op die ander kwessies wat geopper is, by vorige geleenthede gereageer. ’n Brief word tans opgestel om die skrywer as sodanig weer in kennis te stel.”

Volgens Januarie het hy tot nou nog geen verdere skrywe van die departement ontvang nie.

Hy het ook vandeesweek gesê die huidige beheerraad van die skool wou hom ook skors.

“Toe hulle dit doen, het ek dit onmiddellik by die departement aangemeld en die skorsing is nietig verklaar. Hulle is egter nou besig om die skorsing volgens die korrekte prosedure te behartig. Hulle wil my uit die beheerraad skors weens die sosialemedia- inskrywings wat ek oor die wanbestuur by die skool gemaak het. Maar as hulle dan voel wat ek gesê het is onwaar, hoekom ondersoek hulle dit nie eers en kom vorendag met die uitslae voordat hulle my wil skors nie?”

Hy voer ook aan dat hy menige kere al die persoon aan wie hy die memorandum oorhandig het, probeer bel het, maar word altyd in kennis gestel dat die persoon in ’n vergadering is.

“Maar hulle kom net nooit ná die vergadering terug na my nie. Ek weet dat die hoof gedegradeer is weens die feit dat hy matrikulante privaat vir eksamens ingeskryf het.”

Verdere ontevredenheid van Januarie vloei uit die feit dat die verskeie sake teen die hoof almal individueel afgehandel moet word.

“Dit is drie verskillende sake – hoekom moet nog gewag word vir een om afgehandel te wees voordat met ’n ander saak begin kan word? Dit maak nie vir my sin hoe die departement dinge ondersoek nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article