Ouers en leerders het Dinsdag buite Hexvallei Sekondêre Skool in De Doorns betoog omdat hulle ontevrede is met die skoolhoof.

Volgens Pat Januarie, ’n lid van die skool se beheerraad, is daar tans verskeie sake teen die hoof vir wanbestuur van die skool se finansies.

“Hy het ’n nuwe tendens ingebring waar, as ’n kind regdeur die jaar swak punte kry, hulle aan die einde van die jaar privaat inskryf vir hul eksamens. Dit is onwettig,” sê Januarie.

Januarie verduidelik verder dat die hoof glo die skool in die finansiële afgrond bestuur het.

“Die skool het op ’n tyd miljoene in sy bankrekening gehad en hy het dinge so bestuur dat daar by tye niks in die rekening was nie. Daar was ’n tyd dat die skool, vir net een maand, R120 000 aan kruideniersware bestee het. Daar is verskeie onreëlmatige kontrakte waarby die skool betrokke is. Kontrakte waarvan die beheerraad nie bewus was nie. Volgens die reëls moet alle kontrakte eers aan die WKOD gestuur word vir goedkeuring, en wanneer hulle dit goedgekeur het, word dit dan voor die beheerraad gebring en dan word dit ook deur hulle afgeteken, maar dit was nie so gedoen nie. Daar was kontrakte vir verskeie goed soos skootrekenaars, lugversorgers en kopieermasjiene.”

Hy verduidelik ook daar is al soveel memorandums oor die situasie by die skool aan die Wes-Kaapse onderwysdepartement en streekskantoor oorhandig is, maar dat dinge nooit deur die streekskantoor reg hanteer is nie.

“Ons wil nie weer die memorandum aan die streekskantoor oorhandig het nie. In die verlede was daar vele gevalle waar hulle bloot net die klagtes oor die hoof ondersoek het. Daar is goed van verlede jaar wat nie aandag gekry het,” verduidelik Januarie.

Hy het Dinsdag gesê die groep sou weer Woensdagoggend dinge voor die skool hervat.

“Om 06:30 sal ons weer op die grond wees, en ons gaan steeds nie die memorandum aan die streekskantoor oorhandig nie. ’n Paar jaar gelede was daar 13 klagtes teen die hoof, waarvan die hoofkantoor een ondersoek het en vir die streekskantoor gevra om die res te ondersoek. Hulle het dit nooit gedoen nie.”

Hy verduidelik voorts daar is ook verlede jaar deur middel van relevante prosesse beslis dat die hoof aangekla moes word. “Maar dit is ook nooit geïmplementeer nie. Ons kan hulle nie vertrou nie.”

Volgens Januarie het lede van die skoolgemeenskap al verlede kwartaal besluit om te protesteer, maar wou nie kinders se eksamens ontwrig nie. Hy voer ook aan dat die kinders nie hul eksamen aan die einde van verlede kwartaal klaargemaak het nie.

“Die kinders het nie hul eksamens klaar geskryf nie, en sodoende het hulle nie hul rapporte ontvang nie. Dit het my baie ontstel, want aan die einde van die kwartaal verwag jy jou kind se rapport en wil die vakansie in vrede saam met hulle deurbring en werk aan dinge wat dalk in die rapport aandag benodig. Die eksamen sou glo aan die begin van hierdie kwartaal voortgaan. Ons wil net stabiliteit by die skool hê.

“Die slaagsyfer het so geweldig verswak vandat die hoof by die skool is. Ons het gegaan van ’n 95%-slaagsyfer tot 45%.”

Standard het Dinsdag navraag aan die departement gerig.

“Die skoolhoof is voorheen aangekla en gestraf vir finansiële wangedrag. Hy is oorspronklik ontslaan, maar het teen sy ontslag geappelleer. Sy appèl is gehandhaaf en hy het ’n alternatiewe sanksie ontvang. Nuwe bewerings van finansiële wangedrag het na vore gekom wat tans deur Arbeidsverhoudinge en die distrikskantoor ondersoek word. Ander bewerings, rakende sy gedrag met leerders en ouers, is nie onder ons aandag gebring nie. Ons benodig meer inligting, en versoek dat dit aan ons voorgelê word sodat ons verder ondersoek kan instel en ondersteuning kan bied waar nodig. ’n Reëling is getref om met die beheerraad in gesprek te tree rakende die oorhandiging van die memorandum,” het Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die WKOD gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article