’n Baie gewilde en geliefde oud-werknemer van Standard is op Goeie Vrydag ná ’n kort siekte oorlede.
Die 73-jarige Elizabeth (Elize) Jacobs was sewe dae in die waakeenheid van die Worcester-hospitaal nadat sy nierprobleme ontwikkel het.
Elize, ’n gebore en getoë Worcesteriet, was die vierde oudste kind van Willem en Eva Daniels.
Sy het haar laerskool-opleiding aan die NGK Oefenskool voltooi en haar hoërskool-opleiding aan die Hoërskool Esselenpark.
Sy het ná haar skoolloopbaan by die destydse Caps & Dolls gaan werk voordat sy vir bykans 27 jaar (tot die sluiting van die drukkery-afdeling van die Worcester Standard) in die donkerkamer van die drukkery gewerk het, waar sy haar werk met passie gedoen het.
Sy was getroud met Peter, ’n bekende rugby- en krieketspeler en atleet van weleer en ’n ambagsman van beroep.
Hulle sou op 12 April hul 44ste huweliksherdenking gevier het.
Elize word as ’n mense-mens beskryf en was vanweë haar innemende persoonlikheid en haar liefde vir haar medemens baie geliefd onder haar kollegas en haar familie.
Sy was ook pynlik netjies en ’n uithalerkok, wat haar man en familie met smaak kon bederf.
Sy het in 2006 ’n gevoelige slag beleef toe haar enigste seun, Woodrow, haar ontval het, wat gewis ’n langdurige merk op haar gesondheid gelaat het.
Elize word hierdie Saterdag (15 April) om 09:00 vanuit die VGK Worcester (Adderleystraat) begrawe.
Sy word oorleef deur ’n suster, Wilma, ’n broer, Stephen, haar man, stiefseun asook drie kleinkinders vir wie sy baie lief was.





