Een van die Hoërskool Esselenpark (EPH) se mees geliefde voormalige opvoeders, die 70-jarige Sydney Neethling, is verlede Donderdagaand in die MediClinic Worcester oorlede nadat hy net die vorige dag daar opgeneem is.
Hy het die afgelope net meer as 10 jaar, nadat hy die onderwys vaarwel toegeroep het, met sy gesondheid gesukkel en is by meer as een geleentheid in die hospitaal opgeneem.
Sydney, of “Lem”, soos hy onder sy leerders bekend gestaan het, het sy laerskoolopleiding aan die destydse Congregational-skool in Russellstraat ontvang en aan EPH matrikuleer. Hy het sy onderwyssertifikaat aan die destydse Kaapse Skiereilandse Technikon, of Pentec, soos almal dit geken het, voltooi.
Hy het ook later deur deeltydse studies sy BA-graad aan die Universiteit Wes-Kaapland voltooi en sy loopbaan as opvoeder by die Hoërskool George begin.
Daarna het hy vir twee jaar aan Langeberg Sekondêr in Robertson skoolgehou voordat hy by sy alma mater ingeval het. Hier het hy tot adjunkhoof gevorder en met sy betrokkenheid gou in die hart van almal met wie sy paaie gekruis het, gekruip.
Volgens ’n voormalige kollega en later ook hoof by EPH, John Adriaanse, het hy met sy vakkennis, klasbestuur en goeie kommunikasie almal geïnspireer.
Bedryfsekonomie vir matrieks is sommer van dag een aan hom toevertrou terwyl hy ook rekeningkunde, tik en ekonomie met gemak kon aanbied.
Hy was ook baie veelsydig en kon met sy pittige sêgoed almal laat skater as hy gewoonlik as seremoniemeester by skoolfunksies opgetree het.
Hy was ook gedurende sy termyn by die skool verantwoordelik vir die finansies van die skool en was ook instrumenteel in die daarstelling van EPH as ’n skool met ’n sakefokus.
Hy het ’n hoë premie op dissipline, skooltrots en ’n leerkultuur geplaas en het elke jaar met uitstekende uitslae in sy departemente gespog.
Hy was ook bekend as een van die besgeklede onnies op skool en was bekend vir sy deftige pakke klere met bypassende hemde, dasse en skoene, om nie van sy twee goue horlosies (een aan elke pols) te vergeet nie!
Hy was ook ’n skitterende atleet en rugbyspeler op skool en het later die skool se rugbyspanne met groot sukses afgerig. Hy het later ook die Alberts-rugbyvoetbalklub met groot sukses verteenwoordig.
Sy ander groot liefde was Kersfeeskore en hy was vir jare lid van The Fleet, voordat hy die Kersfeeskore Celestial Rays en later Vision of Daniel begin het. Hy het ook op die SA Koreraad as sekretaris gedien.
Neethling was getroud met Spaceline en drie seuns is uit die huwelik gebore. Hy was ook die trotse oupa van vyf kleinkinders.
. Neethling word Saterdag (22 Junie) vanuit die VGK Worcester om 10:00 ter ruste gelê. Die diens by sy huis te Felicitystraat 10, Johnsonspark 1, begin om 09:00. ’n Roudiens is gisteraand by dieselfde kerk gehou.





