Aäron Swartz (18) van Ceres en ’n oud-leerder van Charlie Hofmeyr, het sy buiging vir die o.19- Wes-Kaapspan (WP) gemaak toe hy verlede Saterdag (3 Junie) teen die Haaie in die o.19-Curriebeker-halfeindronde gespeel het.

Swartz het sy skoolloopbaan in 2022 voltooi en was ’n ywerige sportman wat rugby en krieket gespeel en ’n passie vir albei gehad het.

Hy moes ná matriek ’n keuse tussen dié twee sportsoorte maak en het rugby gekies.

“Ek het ’n passie vir albei sportsoorte gehad, maar het rugby gekies,” het Swartz vertel.

Hy is vroeër vanjaar vir die WP-oefengroep gekies, waar 40 rugbyspelers van oral in die Wes-Kaap uitgenooi is om lid van die o.19-span te wees.

Uit daardie 40 spelers is altesaam 23 gekies, van wie Swartz die reserwe-losskakel en reserwe-heelagter was.

Volgens Swartz het hy sedert die begin van die Curriebeker-toernooi nog nie ’n kans gehad om te speel nie, maar het die veld in die halfeindronde die eerste keer betree.

Op skool was hy ’n allemintige rugbyspeler wat tot sy matriekjaar in die skool se A-spanne sowel as in die Bolandspan gespeel het.

Tans woon Swartz in Bonnievale, en wil sy studies volgende jaar in onderwys begin en by die universiteit waar hy gaan studeer, se rugbyspan inskakel.

Hy hoop om ook “eendag” vir die Springbokke uit te draf.

“Ek wil net dankie sê aan my ouers, wat ’n groot rol in my rugbyloopbaan vervul het. Dankie vir die gebede van my ma. My pa was soms kwaai met my, maar dit het gehelp met waar ek vandag is,” het Swartz gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article