Frans Stephanus Erasmus – beter bekend as Ou Grote – is een van Laingsburg se legendes. Hoewel hy reeds bykans 20 jaar oorlede is, onthou Laingsburg se mense hom as een van die beste rugbyspelers wat die dorp nog ooit opgelewer het.
Hy het reeds as skoolseun in die Hoërskool Laingsburg vir hom naam gemaak.
Erasmus is gebore op 19 Junie 1959 in Ceres. In 1977 het hy gematrikuleer aan Hoërskool Laingsburg, waar hy vir die skool se eerste span rugby gespeel het en daarna vir die dorp se span.
In 1978 speel Erasmus vir die Suid-Afrikaanse Polisiekollege in Pretoria. Ses maande later word hy verplaas na Welkom waar hy ook vir verskeie o.20- en o.21-provinsiale spanne gespeel het.
In 1980 begin Frans werk as ’n dieselwerktuigkundige by die polisie op Oudtshoorn.
Daarna word hy gekies vir die SWD A-span, waar hy ook ingestaan het as kaptein vir ’n paar seisoene.
In 1983 toer hy saam die Suid-Afrikaanse rugbyspan na Duitsland en hier kry hy die bynaam ‘Stormram’.
In April 1986 verhuis hy na Pretoria en later dieselfde jaar draf hy uit vir die Blou Bulle en hy word ook gekies vir die Springbokspan. Erasmus speel daardie jaar as ’n Springbok in die derde en vierde toets teen Nieu-Seeland. Die Springbokke het albei toetse gewen met 33-18 en 24-10 onderskeidelik.
In 1987 bedank hy uit die polisie en verhuis na Despatch, waar hy altesaam 119 wedstryde vir die Oostelike Provinsie speel.
Tien jaar later, in 1997, speel hy sy laaste groot wedstryd vir die Springbokke teen ’n SWD-presidentspan op Nuweland. Daarna tree hy uit, maar bly betrokke in rugby as ’n afrigter by Rhodes Universiteit.
Erasmus sterf in 1998 egter tragies in ’n motorongeluk net buite Grahamstad, presies ’n maand nadat sy vrou, Marita, op byna presies dieselfde plek verongeluk het. Die twee word oorleef deur hul drie dogters.




