Die gewilde Kaapstadse Filharmoniese Orkes tree Sondag 8 Oktober om 15:00 die heel eerste keer in die Breederivier-vallei in Robertson se Oos-Kerk op. Groot afwagting bou reeds op vir hierdie buitengewone musiekgebeurtenis.
Die konsert word gehou om die klem te plaas op die belangrike rol wat diere in mense se lewe speel. In die week nét voor die konsert word Wêreld Diere-dag en St Francis-dag gevier. St Francis van Assisi is die internasionale beskermheer van diere.
Om dié dag nog dieper betekenis te gee, word die sprankelende musiekprogram ook ten bate van Eseltjiesrus Donkey Sanctuary in McGregor aangebied. Eseltjiesrus bied ’n permanente veilige hawe vir donkies wat uit haglike omstandighede gered is, mishandel is of nou bloot op pensioen is. Dis ’n ideale geleentheid om hierdie nederige skepsels te ondersteun.
Eseltjiesrus poog om jonger en ouer mense van alle kultuurgroepe te betrek om saam die voorreg van puik musiek te geniet. Die orkes bestaan uit 55 talentvolle musici en bied ’n program met uitsonderlike musiek- items wat tereg “Musiek vir almal” genoem word. Die wye verskeidenheid sluit in Mozart se klavierkonsert (adagio-gedeelte), Elgar se Nimrod- variasies (met orrel), Pavane van Faure, Slawiese Danse (Dvorak) – en selfs Abba en Star Wars!
Die samekoms wil ’n tweeledige doel bereik: die genot van goeie musiek en steun vir die welsyn en sorg vir alle diere, en veral donkies.
Kaartjies verkoop reeds vinnig en is beskikbaar by toerismekantore in Robertson, Montagu en McGregor. In Worcester is die verkooppunt die Durbanstraat-dierekliniek.
Kaartjies kan ook maklik aanlyn bekom word deur adopt@donkeysanctuary.co.za per e-pos te kontak.
Skakel 023 625 1593 vir enige navrae.





