Die eerste saadjie vir ’n geleentheid waar DoofBlinde mense die wonderwêreld van teater (die een met ’n verhoog) kan ervaar, is meer as twee jaar gelede geplant.

Maande lank is beplan en bepeins, kopgekrap en gereeld van plan verander. Niemand kon vooraf presies weet hoe om abstrakte konsepte soos “toneelspeel” en “konsert hou” oor te dra en te verduidelik nie; nog minder kon ons voorspel hoe dit deur volledig DoofBlindes geïnterpreteer sou word, inaggenome dat niemand se intelligensie onderskat en gewis nie “afgepraat” sou word na ’n DoofBlinde gehoor nie.

Geen model waarvolgens ons kon toets of vergelyk, bestaan nog nie. DoofBlind behels grade van doofheid sowel as blindheid binne een liggaam. DoofBlinde mense is ’n gemarginaliseerde groep binne die groter gestremde gemeenskap wat weinig, indien ooit, die teater besoek, en die meeste van die genooide gaste het nog ooit vantevore ’n teatervertoning bygewoon nie.

Voorsiening sou dus gemaak moes word vir uiteenlopende kommunikasiebehoeftes soos dit van een individu na die volgende verskil.

Die aktrise Sandra Prinsloo was van die eerste woord af begeesterd vir die uitdaging en het onderneem om die teks van die toneelstuk Oskar en die pienk Tannie aan te pas en te verkort.

Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) het insgelyks niks teruggehou nie: klank- en beligtingtegnici asook ’n verhoogbestuurder is vir die geleentheid nadergewink.

Niks sou te veel moeite vir hierdie spesiale geleentheid wees nie. Selfs kospakkies is vir elke gas voorberei.

Dertig DoofBlinde gaste en elkeen se assistent of begeleier en tolk is hartlik uitgenooi. Die aanvanklike reaksie van die eregaste het gewissel van versigtige opgewondenheid tot ietwat sku en selfs bangerig vir hierdie nuwe ervaring. Iemand het selfs bespiegel dat Oskar self moontlik ’n DoofBlinde seuntjie is. Ander het prontuit gesê hulle ken ook pienk tannies!

Toe die groot dag aanbreek, het mense met uiteenlopende gestremdhede op die spektrum van DoofBlindheid hul sitplekke ingeneem. Selfs ’n spesiale lae verhoog is in die middel van die Danie Lückhoffsaal staangemaak sodat die gaste naby aan die verhoog kon wees.

Prinsloo het tussen die mense beweeg sodat hulle aan haar kon raak; kostuums en miniatuurweergawes van dekorstelle is rondgestuur om aan te sluit by die aktrise se kort inleiding oor die betekenis van teater.

Uiteindelik het Oskar en Prinsloo se vertolking niemand in die saal onaangeraak gelaat nie. Hulle wou nog hê! Die konsert moes langer wees, was algemene terugvoer.

In die toekoms kan ons voortbou op waardevolle lesse wat uit hierdie ervaring geleer is.

’n Groot handeklap en gejuig vir almal wat hierdie waagstuk onverskrokke aangepak het; ook aan die DoofBlinde vrou wat ’n serp vir Oskar gebrei het.

Die gebeurtenis sou nie sonder die hartlike samewerking van verskeie organisasies en individue kon plaasvind nie. Dankie SBA, Innovation for the Blind en DoofBlind SA Wes-Kaap – julle is almal supersterre!

Baie dankie ook aan Worcester Standard, wat op 28 Julie 2022 oor hierdie heuglike gebeurtenis berig het.

Nuwe geleenthede

Maak gerus kontak met DoofBlind SA Wes-Kaap om met ons te kom gesels oor enige nuwe moontlike geleenthede.

Dit is nodig om hul saai lewe met die mooi dinge in die lewe te verhelder.

Die skep van nuwe geleenthede en blootstelling aan nuwe ervarings vir ons DoofBlinde gemeenskap is vir ons ’n baie belangrike taak omdat die DoofBlinde gemeenskap ontsê word van soveel wonderlike geleenthede om te kan ervaar en belangstellings te ontwikkel weens algemene onkunde oor DoofBlinde mense se vermoëns en behoeftes.

Kontak ryno@deafblindsa.co.za

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article