’n Man van Worcester is onlangs op twee aanklagte van seksuele aanranding skuldig bevind.
Frederick Taljaard (52) is op 24 Februarie in die Worcester-streekhof skuldig bevind op die volgende aanklagte:
Aanklag 1: Oortreding van die Wet op Seksuele Misdrywe ingevolge Artikel 22 van Wet 32 van 2007 – “Flashing” deurdat die beskuldigde op 14 Februarie 2020 sy geslagsdeel wederregtelik en opsetlik aan ’n 11-jarige ontbloot het sonder die slagoffer se toestemming.
Aanklag 2: Oortreding ingevolge Artikel 5(1) Wet 32/2007 – Seksuele aanranding deurdat die beskuldigde gedurende die jaar 2017 (presiese datum onbekend) ’n agtjarige minderjarige se private deel betas het.
Taljaard is op albei aanklagte vyf jaar gevangenisstraf opgelê, in geheel opgeskort vir vyf jaar, op voorwaarde dat die beskuldigde nie weer skuldig bevind word aan ’n soortgelyke misdaad tydens die tydperk van opskorting nie.
Hy is ’n verdere 24 maande korrektiewe toesig opgelê, wat monitering deur beamptes van gemeenskapskorreksies insluit asook bywoning van maatskaplike rehabilitasieprogramme.


