Die 82-jarige Spasie Jeftha nadat sy verlede week aan ’n wedloop deelgeneem het.


Spasie Jeftha sien op 82-jarige ouderdom nog kans vir nog baie meer padwedlope.

Dié inwoner van Nuwerus-ouetehuis het Donderdag (21 Maart) aan Radio Tygerberg se jaarlikse Tyger Run/Walk deelgeneem en die 6-km-padwedloop in 45 minute voltooi.

Sy vertel aan Standard & Gazette sy draf nog al die jare.

“Toe ek egter in my 50’s aftree, het ek meer en meer daarop begin fokus. Ek het al soveel medaljes oor die jare ontvang. Dit hang een van die mure in my kamer by die ouetehuis vol. Ek het al daarvan vir my kinders ook weggegee as herinnering aan my.”

Die hupse tannie het in September verlede jaar by die tehuis ingetrek.

“Maar ek gaan stap elke oggend. Die personeel by die tehuis is bewus van my. Ek kan nie so sit en niksdoen nie. Ek stap elke dag om alles lekker los te maak. Ek voel gesond as gevolg van die draf en stap. Ek het geen ernstige kwale nie,” verduidelik sy.

Daar was egter ’n tyd in haar lewe toe sy weer van voor af moes leer loop, en veral draf.

“Ek het in die covid-pandemie covid ontwikkel. Ek was vir drie weke in die hospitaal – twee weke hier in Worcester en een week in die Paarl.

“Toe ek daar uitkom, moes ek weer leer om te loop, maar deur God se genade het ek daardeur gekom en ek kon weer doen waarvoor ek lief is.”

Sy het die perfekte strategie tydens verlede week se wedloop gebruik.

“Teen die opdraande het ek vinnig opgestap, en by die afdraande het ek gedraf. Dit het so lekker daar gegaan – ek het nie eens gevoel ek hardloop nie. En al kom die krampe en pyne, druk ek net altyd deur en hou my gedagtes op die medalje wat aan die einde vir my wag.”

Sy het voorheen aan baie 10- en 15-km-wedlope deelgeneem, maar fokus deesdae op korter afstande. Intussen is sy reeds besig om fisiek en geestelik vir die Rhodes Quality-padwedloop, wat op 1 Mei in Wellington plaasvind (sien bl. 19), voor te berei.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article