’n Besonderse era het op 27 Januarie tot ’n einde gekom toe die laaste van die Apollis-broers, wat veral sinoniem geword het met langarmdansmusiek, oorlede is.
Lodewyk Rudolph Apollis, of Lool soos hy alom bekend was, was die jongste van ses kinders.
Ná skool het hy hom as messelaar bekwaam en met passie sy beroep beoefen. Hy was ’n kranige sportman en het vir die bekende Primroses-rugbyklub in Worcester uitgedraf. Hy is later in die destydse Worcester-uniespan opgeneem en het ook Boland as vleuel in die destydse Rhodes-toernooi verteenwoordig. Hy het ook vir dieselfde klub krieket gespeel en saam met ander groot geeste van sy era, soos Titus en Wollie le Roux, die bekende Moses-broers, Flippie Baxter, Hennie Ferrus en andere, was hy deel van ’n era toe Primroses altesaam 11 jaar agtereenvolgens die ligabeker verower het. Dan was hy ook ’n kranige veerpyltjiespeler en het die Nerina-veerpyltjieklub in kompetisies verteenwoordig.
Dit was egter as musikant dat hy sy stempel deeglik afgedruk het. Saam met sy drie broers het hy deel gevorm van die gewilde Apollis Rhythm Boys wat toentertyd die dansbane reg oor die provinsie aan die brand gespeel het. In later jare het ’n broerskind, Johnny, met sy Nerina Brass asook nog ’n ander broerskind, Danny, met sy Danny’s Rhythm Combo’s die tradisie voortgesit.
Oom Lool was ’n begaafde musikant wat nie net sewe instrumente kon bespeel nie, maar veral gewildheid verwerf het met die wyse waarop hy die banjo kon tokkel. Hoe gewild hy en sy banjo was, blyk uit die feit dat hy gereeld deur die destydse Kaapse Klopse genader is om deel van hul Nagtroepe se optredes te wees.
Oom Lool was ook saam met sy broers, die bekende Fisher-broers en hul swaer Daantjie October, Oom Johnnie Brown asook Rex Ferrus onder andere instrumenteel in die stigting van die gewilde en bekende The Fleet Kersfeeskoor.
Oom Lool is op 26 Mei 1952 met sy jeugliefde Josephine (Jossie), ’n nooi Solomons van De Doorns, getroud. Uit die huwelik is ses kinders gebore van wie drie reeds oorlede is. Sy een seun Ronnie is ’n bekende in vermaaklikheidskringe. Aunty Jossie is ongelukkig in Julie 2021 oorlede waarna sy gesondheid vinnig agteruitgegaan het. Hy het intussen boonop ook Covid-19 opgedoen.. Oom Lool word eerskomende Sondag om 13:00 uit die AME Gemeente Sion in Le Sueurstraat begrawe.





