Werkers van die SAID in Worcester het verlede week in hul etenstyd voor die SAID-kantore gestaak om hulle misnoeë te toon oor ’n 0%-verhoging.Foto:


Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se werk is minimaal deur ’n personeelstaking ontwrig, maar belastingbetalers word aangemoedig om vir eers belastingkantore te vermy.

Standard het verlede week berig oor personeel wat ook plaaslik staak weens ontevredenheid oor ’n landwye 0%-verhoging. Die aanbod is intussen tot ’n 1,3%-verhoging hersien.

Die staatsinstelling het kort ná die aanvang van die staking ’n persverklaring uitgereik waarin hy sê die jongste aanbod sal waarskynlik nie verander nie. Daar was reeds doelbewuste pogings om die staking af te weer, maar die SAID glo sy aanbod is die beste aanbod moontlik onder die heersende sosiaal-ekonomiese uitdagings waaronder die land tans gebuk gaan. Die belastinggaarder is verder ook beperk deur die toelae wat uit die nasionale koffers aan hom toegestaan word.

Edward Kieswetter, die SAID se kommissaris, het in die verklaring gesê hy het begrip vir die finansiële uitdagings wat werknemers beleef, asook vir die heersende klimaat van ontevredenheid. Hy glo ook werknemers staak nie sommer goedsmoeds nie aangesien dit as sodanig ’n impak op hul finansies het. “ ’n Mens moet egter verstaan dat, wanneer werkers gefrustreerd voel, voel hulle ’n staking is die laaste uitweg vir hulle om gehoor te word.”

Hy het bygevoeg dat die inkomstediens se belangrike werk voortgesit moet word, en sal die nodige stappe doen om die impak van die staking uit te balanseer met die verantwoordelikheid om dienste aan belastingbetalers te lewer en belasting-inkomste in te vorder.

“Dit is hierdie einste inkomste wat die salarisse van staatsdienswerkers betaal en die nodige hulpbronne vir openbare goedere en dienste verskaf.”

Kieswetter het werknemers bedank vir die respek wat hulle teenoor mede-landsburgers betoon deur op ordelike wyse te staak.

Danksy die uitgebreide reeks aanlyn dienste, is die SAID se werk minimaal onderbreek, maar belastingbetalers word aangemoedig om nie belastingkantore te besoek nie. Die inkomstediens sal mense op sy webtuiste op hoogte hou van nuwe verwikkelinge.

Dienste by doeane-punte het sonder groot onderbrekings voortgegaan.

Intussen het die inkomstediens aan werknemers verduidelik dat hulle nie betaling sal ontvang vir die tyd wat hulle staak nie, en het unie-leiers dringend versoek om op die mees onlangse aanbod te reageer sodat die saak afgehandel kan word.

“Die SAID het bloot nie die hulpbronne om [inflasie] plus 7% aan te bied nie. Ek verstaan dat ons aanbod nie is wat ons werknemers wil hê nie, maar dit bied die waarskynlike oplossing . . . op ’n tydstip wanneer werknemers in die hele openbare diens geraak word.

“Ons besef die afgelope paar jaar se vergoeding en voordele het nie met inflasie tred gehou nie. In ’n land wat deur werkloosheid en ander sosiaal-ekonomiese uitdagings in die gesig gestaar word, het SAID-werknemers reeds werksekerheid, asook markverwante salarisse en voordele. Hierdie aanbod, hoewel dit nie aan die eise van werknemers voldoen nie, sal addisionele verligting bring om die impak van die huidige ekonomiese toestande te verlig. “Die deur bly oop vir onderhandeling.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article