Die omvangryke ontwikkeling langs Brandvleidam is maar een van die ontwikkelings in die nabye toekoms wat deur middel van toerisme die ekonomie van die omgewing ’n stewige hupstoot gaan gee.

So sê plaaslike prokureur en raadslid, Frank van Zyl.

Van Zyl het gesê Worcester was nog altyd ’n landbougedrewe ekonomie, maar na verskeie werksessies oor hoe om die ekonomie van die Breedevallei te stimuleer, was dit duidelik dat die pad vorentoe gerig is op toerisme-ontwikkeling.

Reeds is die tender vir Klein Plasie toegestaan aan die uiters suksesvolle Agri Mega, wat die perseel nou sal bestuur en ook hoog aangeskrewe landbouskoue daar sal aanbied.

Van Zyl het gesê dat Agri Mega ’n baie groot en suksesvolle maatskappy is en die toerisme-ontwikkeling van Klein Plasie tot almal se voordeel sal wees.

Maar die kersie op die koek wat aan die kom is vir die Breedevallei, is die ontwikkeling van die Brandvleidam.

Hier word ’n reusetoerisme- en leefstyl-oord beoog. Vanaf ’n hotel en gholflandgoed, tot ontspanning en ekotoerisme.

Van Zyl het gesê dat die eerste fase van die ontwikkeling vroeg volgende jaar sal begin. “Hierdie is ’n reusehupstoot vir plaaslike toerisme-ontwikkeling en al die inwoners van die vallei kan ekonomies hierby baat.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article