’n Geliefde inwoner van wyk 7, Neels de Bruyn (79), is onlangs ná ’n kort siekte oorlede.

De Bruyn het diep spore in Worcester en die Kaapse Wynlande getrap. Hy was voorheen ’n stadsklerk van die Worcester-munisipaliteit, ’n stigterslid van die Demokratiese Alliansie, oud-burgemeester van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit en ’n komiteelid vir Paglande in wyk 7 se wykskomitee.

Met sy aankoms in Worcester in die vroeë 1990’s het De Bruyn reeds ’n lang en roemryke loopbaan in plaaslike regering in die destydse Transvaal-provinsie gehad en was hy onder meer ’n voormalige stadsklerk van Randburg voordat hy die aanstelling as stadsklerk van die destydse Worcester-munisipaliteit aanvaar het.

In die pos as laaste stadsklerk van die destydse Worcester-munisipaliteit het hy die moeilike taak gehad om die verskillende bestuursliggame met Worcester-munisipaliteit tydens die Oorgangsraad te laat saamsmelt. Hierdie tye van kort voor die politieke oorgang voor 1994 was die uitdagendste nog in plaaslike regering met vele onderhandelings en massa-optogte wat munisipale dienslewering tot stilstand geruk het.

Teen die einde van die vorige politieke bestel is Worcester, Rawsonville, Touwsrivier en De Doorns elkeen deur hul eie stadsraad beheer, terwyl tradisionele kleurling-woongebiede deur bestuurskomitees beheer is en Zwelethemba deur ’n stadsraad ingevolge die Black Authorities Act van 1982.

onderhandelings

Teen die agtergrond van die Codesa-onderhandelings is ’n proses van stapel gestuur om die Worcester-munisipaliteit en die Worcester-bestuurskomitee te laat saamsmelt, en so het die De Doorns-munisipaliteit en De Doorns-bestuurskomitee in Junie 1993 en die Touwsrivier-munisipaliteit en Touwsrivier-bestuurskomitee in Oktober 1993 saamgesmelt.

Ná die 1994-verkiesing het ’n proses van plaaslike- regeringstransformasie begin, waar onderhandelings tussen die bestuurstrukture en politieke partye en plaaslike gemeenskapsorganisasies plaasgevind het. Hiervolgens het die Worcester-munisipaliteit ná 97 jaar, sedert 1897, opgehou bestaan en het dit in Oktober 1994 die Worcester-oorgangsraad gevorm. In Desember 1994 het die Touwsrivier-oorgangsraad ontstaan en in Januarie 1995 die oorgangsrade van De Doorns en Rawsonville.

In Mei 1996 is die eerste plaaslikeregeringsverkiesings vir hierdie oorgangsrade gehou.

Tydens die plaaslike- regeringsverkiesings van Desember 2000 is die oorgangskomitees en oorgangsrade afgeskaf en het die Breedevallei-munisipaliteit as nuwe samevattende munisipaliteit ontstaan.

De Bruyn moes al hierdie prosesse as stadsklerk van die Worcester-munisipaliteit deurvoer.

Hierbenewens was een van die grootste geskiedkundige oomblikke waarby De Bruyn betrokke was, die stigting van die Demokratiese Alliansie op 24 Junie 2000 by Goudini Spa, waar hy een van die oorspronklike stigterslede van hierdie party was. Kort voor hierdie historiese datum was hy een van net ’n handjievol Nasionale-Party-afgevaardigdes wat in ’n Nasionale Party-vergadering, waar dit bekend geraak het dat die Nasionale Party en die ANC sou saamsmelt, opgestaan en uitgeloop het.

Ná sy uittrede as laaste stadsklerk van die destydse Worcester-munisipaliteit, en met die totstandkoming van die Breedevallei-munisipaliteit, het De Bruyn van 2000 tot 2004 as die heel eerste wyksraadslid van wyke 6 en 7 gedien toe dit destyds nog een groot wyk was.

Hy is in 2004 as ’n DA-raadslid by die Boland-distrikmunisipaliteit verkies, en toe dit later die Kaapse Wynland-distrikmunisipaliteit geword het, het hy van 2011 tot 2016 as burgemeester gedien.

Hy het sy gemeenskap as Paglande se verteenwoordiger in wyk 7 se wykskomitee by Breedevallei-munisipaliteit van 2021 tot sy dood steeds gedien.

De Bruyn se grootste nalatenskap is sy vermoë as politieke brugbouer om mense van uiteenlopende opinies by mekaar uit te bring – ook sy politieke mentorskap waar hy jong politieke leiers – onder wie die huidige burgemeester van die BVM, Antoinette Steyn – meer van politieke moontlikhede geleer het.

In hierdie opsig het hy ook ná sy aftrede in die DA se keur-panele gedien waar nuwe kandidate gekeur moes word, en het hy ’n fyn oog gehad om leierstalent raak te sien en te help verfyn.

visie behou

Hy het geglo dat politiek die kuns van die moontlike (politics as the art of the possible) was, en dat baie dinge moontlik is as ’n mens net by jou veranderende politieke landskap aanpas terwyl jy jou visie behou.

Wanneer ’n raadslid van koers van sy politieke mandaat buite partybeleid opgetree het, het so iemand sommer vinnig van De Bruyn gehoor!

Baie lede van die publiek, inwoners, vriende, oud-amptenare, huidige amptenare, oud-raadslede en huidige raadslede by die BVM sowel as die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, sal De Bruyn verskriklik baie mis omdat hy so ’n bekende gesig op vergaderings was.

Op die ou einde was die mees onderskeidende kenmerk van De Bruyn, wat hom van al sy voorgangers en tydgenote onderskei het, die feit dat hy tot reg aan die einde sy gemeenskap as wykskomiteelid bly dien het. Soveel keer “dien” mense die gemeenskap in hoë poste, en as hulle afgetree het, hoor of sien jy hulle nooit weer nie, maar dit kan nie van Neels de Bruyn gesê word nie – hy het sy gemeenskap reg tot aan die einde bly dien, en daarom sal hy baie gemis word.

Die BVM by monde van die raadslid Julian Kritzinger het gesê hul innige simpatie gaan aan De Bruyn se eggenote, Teresa, en hul seuns, Corné en Alwyn, en kleinkinders.

“Ons wens is dat God julle deur hierdie baie moeilike tydperk wat nou voorlê, sal dra, want ons almal gaan hom saam met julle baie mis.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article