David Jantjies het die gehoor laat skater met staaltjies oor die lewe in Worcester in die 1960’s.Foto: Dominique Jeftha


Worcester se ongeskrewe geskiedenis is nou op papier vasgelê, danksy ’n boek wat uit die pen van gerekende skrywers van die dorp saamgestel is.

Die boek is die geesteskind van Charles Beukes en het ten doel om die stories van die dorp te vertel.

Die boek is deur Chipros, organisasie sonder winsbejag, uitgegee.

Beukes het Saterdag (23 April) by die boek se bekendstelling gesê die idee het by hom opgekom toe Standard hom in 2020 genader het om oor die geskiedenis van die dorp te skryf – meer spesifiek die geskiedenis wat in die verlede uitgelaat is of nooit formeel aangeteken is nie.

Hy sê van daar af het hy ’n groep mense in Worcester bymekaargekry om oor die dorp se geskiedenis te skryf.

“Ons dorp het soveel kennis en geskiedenis waarvan ons jongmense nie weet nie. Die plan is om die boek te versprei. Dit gaan in die munisipaliteit se biblioteke wees waar mense dit sal kan kry.”

Beukes het by die bekendstelling van die boek gesê dit moet beskou word as ’n storieboek eerder as ’n geskiedenisboek.

David Jantjies het staaltjies gedeel oor ’n deel van Worcester wat min mense ken. Hy het in detail vertel oor gebeure in die 1960’s in die woongebied bekend as Die Kamp.

“Min mense weet dit, maar Kersfeeskore het in die kamp ontstaan.

“Die mense in Die Kamp het destyds huur betaal vir die grond en later moes hulle na Riverview trek, of soos ou Worcesteriete dit sal ken as “In en uit”, want so vinnig soos hulle ingetrek het, was hulle weer uit omdat die mense nie die huur kon bekostig nie,” het Jantjies vertel.

Hy vertel laggend dat hulle van die min mense was wat ’n “nommer asseblief”-telefoon gehad het.

“Mense het by ons huis aangeklop vir hulp sodat my ouers die polisie of dokter kon bel.”

Dr. Diana Ferrus, een van die skrywers, het voorgestel dat jongmense die boek resenseer sodat ’n opvolg geskryf kan word en jong stemme bygevoeg kan word.

Die skrywers wat by die projek betrokke was, was Charles Beukes, Aubrey Springveldt, Anver Sedan, Brian Wilson, Alver Uys, Kathleen Kariem, Juan Kariem, Diana Ferrus, Cecyl Esau, Floris Brown, Kulsum Jeftha en Henry Issel.. Die boek is tans by die museum te koop en kos R120. Die geld sal vir ’n opvolgboek aangewend word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article