Die vallei het die afgelope week weer talle motorongelukke ervaar, soos duidelik in vandeesweek se Standard uitgebeeld.
Maar is dit nie dalk tyd om nié meer sulke ongelukke te noem nie?
Die betekenis van die woord word onder meer as volg beskryf:
Sonder dat dit die bedoeling was; onopsetlik; per abuis.
Deesdae kan baie min hiervan as “ongelukke” beskryf word.
Drank en spoed is dikwels van die grootste redes vir botsings; ook onpadwaardige voertuie, onbevoegde bestuurders en natuurlik alledaagse roekelose en ongeduldige bestuur.
’n Mens sien hierdie houdings elke liewe dag op ons paaie. Hierdie optredes lei dikwels tot botsings en kan dus nie as ’n ongeluk beskou word nie.
Polisiëring op ons paaie is – soos bewys deur die baie hoë ongeluksyfer en padsterftes – heeltemal onvoldoende.
En dan, in die baie skraal geval dat so ’n saak in die hof beland, gaan die reg bykans nooit sy gang nie en die sake word bloot uitgegooi.
Indien daadwerklike optrede op ons paaie teenoor padvarke en dies meer toegepas word, sou die breë publiek dalk eers ’n bietjie mooi nadink voordat hulle hulself soos idiote op die land se paaie gedra.



