Die saak teen ’n bekende onderwyser van Worcester wat daarvan aangekla is dat hy kinderpornografie vervaardig het, is verlede Woensdag van die hofrol geskrap. Dit kom nadat die staat hom aan pleitonderhandelings met die verdediging onttrek het, en die hof nie verdere uitstel wou gee nie. Die moontlikheid dat die saak egter weer op die rol geplaas kan word, is nie uitgesluit nie.
Die saak was vir 18 Mei op die hofrol vir pleitonderhandelings. Volgens hofdokumente het die beskuldigde tussen 2018 en 23 Augustus 2019 by of naby ’n hoërskool in Roodewal onregmatig en opsetlik video’s vervaardig sonder die kennis van die minderjariges.
Die staat het verlede week aan die verdediging kennis gegee dat die staat hom aan pleitonderhandeling onttrek en die hof versoek om ’n verhoordatum te bepaal. Die verdediging het egter beswaar aangeteken teen die staat se versoek om ’n verhoordatum.
Die hof het die verdediging gelyk gegee en die staat se versoek om ’n uitstel vir die verhoor van die hand gewys, waarna die hof die saak van die rol geskrap het. Die hof het gelas dat alvorens die saak weer op die hofrol geplaas word, die staat skriftelik moet aandui dat die getuies en klaers in al die klagte nog beskikbaar is en gereed is om voort te gaan.



