Leo’s Foundation, Breedevallei-munisipaliteit (BVM) se munisipale dierewelsynorganisasie in Worcester, is op 2 Junie gesluit nadat dit op 29 Mei deur die Nasionale Raad van die Dierebeskermingsvereniging (NDBV) besoek is.
Tesna Palvie, die bestuurder van die omstrede diere-organisasie Leo’s Foundation, wat in Mei 2021 BVM se tender gewen het om die skut te bestuur, word deur die Wellington-dierebeskermingsvereniging (DBV) ondersoek weens dieremishandeling, volgens Tercia Woest, samelewingskakeleenheidsbestuurder van die NDBV.
Volgens ’n verslag deur die NDBV wat Standard onder oë gehad het, is die perseel van die destydse Breedevallei DBV aan die BVM oorgedra, wat eienaarskap ontvang het en hul eie diereskut daar oopgemaak het.
Leo’s Foundation, wat onder Palvie se bestuur geplaas is sedert 2021, was sedertdien die fokus van verskeie klagtes van dieremishandeling deur die publiek wat die NDBV aangemoedig het om in Mei vanjaar ondersoek in te stel, volgens Engela Blom, inspekteur van die Boland-diere-organisasie.
“Die bevindings van die onlangse inspeksies van Leo’s Foundation deur die NDBV- en plaaslike DBV-inspekteurs was skokkend en die manier waarop die fasiliteit bedryf is, het daartoe gelei dat die fasiliteit in kwarantyn geplaas moet word,” volgens die verslag.
Volgens Chad Malgas, woordvoerder van die BVM, is hierdie besluit geneem weens ’n uitbreking van hondesiekte.
Volgens ’n betroubare bron na aan Standard sluit dit distemper in, wat soos ander hondesiektes vinnig kan versprei – iets wat wel gebeur het.
Die bron het ook verduidelik dat die geskorste skut honde in die skut toegelaat het wat sy geweet het is siek, wat die siekteverspreiding aangehits het.
Verskeie ander gevalle van dieremishandeling is ook aangemeld wat tot die sluiting van die skut gelei het.
Dit sluit in ’n tekort aan kos en water in die hondehokke wat die diere in
’n swak toestand gelaat het, ’n vuil erf wat min skoongemaak is, en honde en katte betrek met bosluise en sere wat geen behandeling ontvang het nie.
Die onwettige aanhouding van skilpaaie sonder ’n permit van Cape Nature is ook aangemeld.
Die skilpaaie is gekonfiskeer en word tans gehuisves deur ’n organisasie met ’n geldige permit vir die aanhouding van wilde diere.
CapeNature het ook ’n saak geopen teen Palvie oor die aanhouding van die skilpaaie, wat tans ondersoek word.
Volgens die bron was dié diereskut ook oorvol, en ’n perseel wat om en by 60 honde kon huisves, het later 163 honde gehad wat tot die vuil omstandighede bygedra het.
“Die BVM is verplig om skutdienste te verskaf en terwyl die munisipaliteit die bestuur daarvan per tender kan uitkontrakteer, kan hulle nie alle verantwoordelikhede daarvan laat vaar nie,” het die verslag se bevindings verduidelik.
In die verslag vra die NDBV die BVM om verantwoordelikheid te neem vir sy “nalatigheid” en die probleem op te los deur onder meer Palvie te laat vervolg.
Volgens Malgas is die munisipaliteit van plan om ’n nuwe tender nie later nie as September vanjaar te adverteer.
“Intussen is die munisipaliteit in die proses om ’n tydelike diensverskaffer aan te stel wat die werksaamhede gaan behartig totdat die tenderproses afgehandel is,” het Malgas per e-pos gesê.
Volgens hom word daar tans geen diere op die perseel gehuisves nie, omdat dit eers skoongemaak en ontsmet moet word.




