Gesin se drie honde gered

Nico Harmse het dié foto van die honde in die boot op die Breede Valley Farm Watch se Facebook-blad gedeel. Foto:

Credit: SYSTEM Credit: SYSTEM

’n Gesin wat verlede Woensdag per boot na veiligheid geneem is omdat die water in en om hul huis gevaarlik hoog was, het gevra dat hul vierpoot-kinders ook gered moet word.

Die gesin se drie honde is Donderdag (15 Junie) met ’n rubberboot gered.

“Ons het kontak gemaak met die gesin vir wie ons die Woensdag gehelp het om te hoor of hulle al die diere na veiligheid kon bring. Hulle het egter aangedui dat die omgewing nog deur vloedwater omring is en die watervlak gestyg het. Die huis en omliggende gebiede was omring deur water as gevolg van die rivier wat sy walle oorstroom het,” verduidelik Brent Jonker, forensiese patologiedienste, adjunkdirekteur: Wynlande Overberg.

Die forensiese patologiedienste is deel van die nood- en kliniese ondersteuningsdienste van die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand.

Jonker en sy kollegas het die vorige dag die Kruger-gesin, aan wie die honde behoort, op ’n plaas naby Badshoek-kelder langs die Goudini-pad gered.

“Ons het vyf mense gered. Dit het ’n baba en ’n kleuter ingesluit. Die eienaar van die honde het toe weer saam met my gegaan om die honde by die huis te gaan haal.”

Jonker en sy kollegas is bly dat hulle die gesin verder kon bystaan om hul honde uit hul oorstroomde erf en huis te red. “Hierdie diere is baie belangrik vir die gesin en ons is dankbaar dat ons hulle kon bystaan. Ons is baie bly dat drie honde uit die huis verwyder en na veiligheid geneem is,” sê hy.

Jonker skat die water was omtrent drie tot vier meter diep “aangesien ons met die bootjie tot op die agterstoep van die huis kon ry”.

Hierdie span was ook by ander reddings in ander dorpe betrokke.

“Die enigste ander tonele waar ek Donderdag 15 Junie betrokke was en ons bote gebruik het om mense van die vloedwater te beveilig, was die toneel langs die Cerespad by Oustasie-plaas, waar die reddingspan 53 mense en ses honde uit hul huise verwyder het.

“Vrydag (16 Junie) het ons die toneel net buite Robertson besoek en agt mense, ’n hond en ’n kat na veiligheid gebring.

“Verskeie rolspelers was by die redding van die mense en hul diere betrokke en ons bedank almal vir hul bydrae,” sê Jonker.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article