Die Rawsonville-gemeenskap het verlede week ’n ware staatmaker en steunpilaar verloor.
Gladys van Wyk (59), die stigter van die Living Valley Kids-sopkombuis, maak al vir jare seker kinders hier het iets te eet, en het onbaatsugtig ander in nood gehelp.
Van Wyk het haar eie traumatiese ervarings gebruik om haar lewe om te draai en ander deur middel daarvan te hulp te snel.
As kind is sy verkrag en het van die huis af weggeloop. Sy het af en toe weer op die dorp gewoon, maar het toe vir ’n ruk lank in die Kaap gewoon.
“Dis in die Kaap waar ek geleer het van sopkombuise. Die Here het my na Rawsonville teruggestuur. Ek wou nie terugkom hierheen nie,” het sy destyds aan Standard vertel (“Ma gee ander hoop ná smart”, Donderdag 24 Junie 2021).
Van Wyk is in die vroeë oggendure van Woensdag 9 Maart aan natuurlike oorsake dood en laat veral ’n leemte onder dié na wie sy altyd omgesien het.
“Sy het ’n baie groot impak op die gemeenskap gemaak. Sy het so baie mense gehelp. En nie net dit wat ons kon gesien het nie. Nie net het sy vir die kindertjies gesorg nie, maar sy het ook berading gebied aan dié wat dit nodig gehad het,” sê Laetitia Southey, ’n vriendin van haar.
Volgens Southey was dit Van Wyk se roeping om haar gemeenskap te help.
“Sy was baie oplettend in terme van wat die kinders nodig het. Soms sou sy oplet dat ’n kindjie vir ’n paar dae dieselfde klere dra. Dan sou sy die kind was en klere gee of as sy nie klere gehad het nie, het sy vir die res van ons gevra om te help. Ek het regtig na haar opgekyk. Ek was nog Maandag by haar en Woensdag het sy gesterf.”
Sy beskryf haar oorlede vriendin as ’n omgeemens en ’n baie sterk vrou.
“Ten spyte van haar eie hartseer en bekommernisse het sy altyd tyd gemaak om na ander te luister en ander op te beur. Sy het nie altyd besef hoe belangrik haar rol in ander se lewe was nie. Ek gaan haar lag en lekker lang stemnotas op WhatsApp vir seker mis.”
Volgens Southey is Van Wyk se man en kinders baie hartseer.





