Die OK op Laingsburg is meer as net ’n gewone supermark, dit is die huiswinkel van die kontrei.
Sedert die nuwe eienaars, Louis en Marida Serfontein, in Januarie vanjaar oorgeneem het, het die winkel se dienslewering aansienlik verander en fokus die winkel daarop om gehalteprodukte bekostigbaar aan klante te bied. Betroubaarheid van die winkel is ’n prioriteit en word op gelyke voet geplaas met plaaslike ondersteuning aan die gemeenskap.
“Ons grootste uitdagings was om die winkel weer betroubaar, bekostigbaar en skoon te kry – ’n plek waar mense wil inkopies doen,” sê Louis. “Die kooppatroon van baie tradisionele kopers het verander oor die jare en die groter sentrums het baie van die plattelandse besigheid gekry. Dit was ons uitdaging om deur goeie dienslewering en waarde vir geld die hele mark terug te win.”
Hy sê die winkel was verwaarloos toe hulle oorneem en dat baie werk op hulle gewag het, maar dat hulle tevrede is met die vordering wat hulle tot dusver gemaak het.
“Daar is nog baie om te doen insluitend die opgradering van fisieke winkelspasie maar ons voel tevrede dat ons reeds in ’n groot mate daarin geslaag het om weer die winkel mandjie-vir-mandjie ’n billike ervaring te maak. Logistiek en plaaslike aankope het met reuseskrede verbeter. Ons eerste prioriteit was om die OK in ’n kontreigeoriënteerde winkel te verander. ’n Winkel wat in die mense van die omgewing se behoeftes voorsien,” voeg hy by.
Varsprodukte, soos groente, vrugte en melk, word elke dag afgelewer waar dit voorheen slegs een keer elke twee weke aflewerings gekry het. “Ons is ook die enigste verskaffer van baie van die basiese varsprodukte en alhoewel dit ’n groot uitdaging is om dit te lewer in die middel van die Hartland Karoo, doen ons dit met trots en deursettingsvermoë. Dit maak dit alles die moeite werd as daar ’n tevrede kliënt na ons toe kom om dankie te sê.
“Ons almal lewe in moeilike ekonomiese omstandighede en daarom is dit noodsaaklik dat die gemeenskap die winkel ondersteun soveel as wat hulle verwag dat die winkel die gemeenskap moet ondersteun. Op die platteland gaan die ondersteuning verder as net vars en bekostigbare produkte en kring uit na borgskappe van verskeie gemeenskapaksies en natuurlik die aankoop van plaaslike goedere en produkte van professionele sowel as ontwikkelende boere.
“Ons is trots Laingsburg en trots om deel van ’n nuwe energie te wees. Ons neem altyd in ag dat ons klante nie net oor die pad loop nie, maar somtyds baie kilometers reis om by die winkel uit te kom.
“Ons hoop om in die nuwe jaar aan die meer fisieke aspekte van die winkel aandag te gee, maar met die doelstelling om nie pryse noodgedwonge te verhoog nie.”
Alle werknemers van die winkel is plaaslike inwoners en het aangebly toe die nuwe eienaars oorgeneem het. Dit is dan ook die besigheidsfilosofie van die eienaars om plaaslike besigheid kundigheid te ontwikkel en so ’n beter lewensgehalte vir almal te ondersteun.




