Dis weer daardie tyd van die jaar wanneer kinders in skole ingeskryf moet word. ’n Moeilike besluit vir denkende ouers – hulle wat na substansie van permanente aard soek. Hierdie skrywe is nie vir diegene wat skoolplasing ligtelik opneem nie. Dit is nie vir diegene wat oppervlakkig kyk na korttermyn soetighede soos… dis ’n lekker skool, want my maats gaan daarheen… homogeniteit of unieke eendersheid nie. Daar waar alles wat kan blink, inderdaad blink!

Hierdie skrywe is vir ouers wat dink oor waar hulle kinders gaan mens word – waar hul kinders opgevoed gaan word om die eise van die volwasse wêreld reguit en met vertroue in die oë te kan kyk en tegemoet te gaan; ’n plek waar korttermyn-vreugdes met dankbaarheid gevier word, maar waar uitdagings geleenthede word wat oplossings vind; waar groei nie in glashuise welig is en in die aanslae van wind en weer verwelk nie; skole waar wind en weer eerder gebruik word om stewige bome te kweek – hoë bome wat die wind vang, maar bly staan.

Hierdie skrywe is gerig aan ouers wat ’n skool soek waar prestasies volop is, maar nie verabsoluteer word nie; waar die prestasie per se nie die prestasie is nie, maar die pad na prestasie die handeklap is; waar kinders leer dat prestasies deur énigiemand behaal kan word, al lyk en dink die presteerder nie noodwendig soos hy/sy nie; waar die skoolgemeenskap baie trots en dankbaar is as sewe mediese dokters in een jaar afstudeer; en waar die prestasie ander leer dat enige prestasie moontlik is deur harde werk en liefdevolle ondersteuning van opvoeders en ouers – ’n skool waar die individu se prestasies volgens sy/haar talente gevier word. Geleenthede word daardie kind se talentveld.

Hierdie skrywe is gemik op ouers vir wie hul kinders se moontlike toekoms in die internasionale werksomgewing belangrik is – om vaardig te wees om in die buiteland te werk, maar ook om hier in Suid-Afrika vir internasionale maatskappye te werk… of selfs jou eie onderneming te vestig; ’n skool waar leerders ’n gemaklike blootstelling aan meertaligheid – veral Engels – geniet, waar die leerder die kommunikasie hoor en nie die taal nie; ’n opvoedkundige instelling waar verbale kommunikasie versterk word deur tegnologie – waar tred gehou word met elektroniese ontwikkeling.

Hierdie skrywe is vir ouers wat ’n toekoms sien in die aanleer van permanente interpersoonlike vaardighede en verhoudings; waar respek en insig in ander kulture, godsdienste, tradisies, gebruike, sosiale vlakke, agtergronde, denke, tale en herkomste gevestig word sonder die prysgee van eie identiteit; waar diversiteit ’n leergeleentheid is en nie ’n bedreiging nie, en verskille jou voorberei om saam te werk eerder as in vrees te lewe vir dit wat anders as jy self is. Hier word geen verskoning gevra vir eie identiteit nie, maar ander identiteite word gebruik om die kind se eie menswees te verryk. Mense se waarde word dus nie in prestasie gemeet nie, maar in karakter en vaardighede met permanente rakleeftyd. Ou tradisies word hier gekoester sonder dat dit ’n hindernis is om nuwe saambindende opbouende tradisies te vestig en uit te bou. Daarom voel kinders hier tuis, lewenslustig, opgewek en gelukkig met ’n skoolgees wat leerders saambind.

Hierdie skrywe is vir ouers wat déúr die weerkaatsing vanaf die blink opper­vlakte kyk en die pragtige onder­water­tonele raaksien en waardeer – ouers wat die weerkaatsing van prestasies (matriek­uitslae, sportpresta­sies, kultuurprestasies) koester, maar die dieper en permanente ontginning en groei van emosionele intelligensie belangriker ag.

Dankie Worcester Gimnasium. Jý is ’n ode aan wáre opvoeding! Ek is ewig dankbaar dat ek en my gesin se paaie met jou gekruis het. As ek ooit weer moes kies, is jy weer my eerste keuse.


Dr. Hennie van der Westhuizen,

Worcester

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article