Die water wat van die Kaap Agri-brandstofdepot se hoek af loop, het reeds van die grond verskuif en loop gereeld by dié perseel in wanneer dit baie reën.Foto’s: Dominique Jeftha


’n Aantal ondernemings in die nywerheidsgebied van Worcester het Woensdagaand 23 Maart onder die swaar reën, wat kitsoorstromings veroorsaak het, deurgeloop.

By een so ’n onderneming, waar ’n paar motorwerktuigkundiges ’n gebou huur, het hul werkswinkels heeltemal oorspoel. Die erf in Downstraat is nie heeltemal gelyk met die pad nie en word gereeld ná erge reën oorstroom.

Volgens Jeremy Kriegler van die plaaslike belastingbetalersvereniging het hulle die munisipaliteit vantevore ingelig oor die probleme van ’n tekort aan stormwaterdreine in die nywerheidsgebied. Kriegler het aan Standard uitgewys waar die water die pad beskadig omdat die gebied geen stormwaterdrein het nie. Hy sê die water loop dan by die naaste erf in.

Een van die werktuigkundiges, wat ’n gedeelte van die perseel huur, sê die water het soos ’n dam voor sy onderneming gelê. Hy sê die eienaar sal die perseel moet regmaak omdat hulle as huurders betaal. Kriegler sê die munisipaliteit moet verseker dat genoeg stormwaterdreine aangebring word om te verhoed dat water nie weer sakepersele in die gebied oorstroom nie aangesien dit skade aan toerusting asook huurders se ondernemings aanrig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article