’n Spesiale gebeurtenis tydens die onlangse 300-jaar-Rabe-/Rabie-familiefees was dié familiebond se opening van die Nuymuseum, wat die Rabies en die Nuyvallei se geskiedenis uitbeeld.

Hierdie historiese gebeurtenis het geboorte aan die Breedevallei se eerste private museum gegee.

Die Nuymuseum is gesetel in die historiese 1811-woonhuis van die vierde geslag Rabies, Johannes Christiaan Rabie (1785-1823).

Die eerste Rabie wat hom in die Nuyvallei gevestig het, was die stamvader, Christiaan Rabe (1695-1733), se seun, Christiaan Rabe Junior (1730 tot c. 1767).

’n Weidinglisensie is op 3 Maart 1766 aan hom uitgereik om sy vee in die Nuyvallei te laat wei.

Sy seun, Johannes (Hans) Rabie (1755 tot c. 1820), het in 1810 begin bou aan dié historiese opstal op Onder-Kloppersbosch (die hedendaagse Glen Oak) in die Nuyvallei, wat vandag nog staan en wat met die familiewapen van ’n kraai op die gewel pryk.

Die vierde geslag, Johannes Christiaan Rabie (1785-1823), was egter die eerste wat hom op die westelike oewer van die Nuyrivier gevestig het en het sodoende die baanbreker van die hedendaagse Leipzig geword.

Die oorspronklike woning wat hierdie vierdegeslag-baanbreker in 1811 opgerig het, staan vandag nog net so langs die Nuypad, en dit was ook die aangewese tuiste vir die Nuymuseum.

’n Interessante anekdote van hierdie ou historiese woonhuis is dat Johannes Christiaan Rabie die huis direk langs die destydse Tulbagh-Swellendam-wapad gebou het. Die huis staan ook spesifiek skuins teen die bult sodat ossewaens se goedere makliker op- en afgelaai kon word.

Hoogtepunte van die Nuymuseum:

Sedert die Rabe-/Rabiefamiliebond se ontstaan vyftig jaar gelede in 1973, het verskeie inwoners artefakte en items aan dié bond geskenk. Dit is verblydend dat hierdie kleinode ’n permanente tuiste gevind het. Van die hoogtepunte in die versameling sluit in:

. ’n Oorkonde vir die beste volstruisvere in die 1885-landbouskou in die Veremarksaal in Port Elizabeth;

. ’n Historiese traporrel wat aan ds. Christiaan Rabie behoort het, wat in 1881 ’n medestigter van die Skool vir Blindes en Dowes op Worcester was;

. Historiese kledingstukke wat uit die laat 1800’s dateer;

. Historiese foto’s van die opening van die Nuyrivier-deeldam in 1909, die eerste private besproeiingskema in Suid-Afrika;

. Landboupryse wat oor die jare verower is;

. Inligting van belangrike wyne wat deur die jare pryse gewen het;

. Foto’s en inligting oor die Italiaanse krygsgevangenes wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in Nuy op die plase gewerk het;

. Die oorspronklike lessenaar wat aan Suid-Afrika se hoofregter van 1982 tot 1988, Pierre Rabie, behoort het; en

. Baie spesiaal was ook die tydelike uitstalling van ’n lemoenhoutstoel wat aan Hannes Rabie van Nuwerus behoort en wat uit ongeveer 1827 dateer.

Besigtiging per afspraak

Die Nuymuseum kan slegs per afspraak besigtig word, van Dinsdae tot Vrydae van 10:00-16:00 en Saterdae van 10:00-14:00.

Vir afsprake, skakel 023 347 8422.

Indien enigiemand dalk interessante inligting of items het wat ’n verbintenis met die geskiedenis van Nuy het, is hulle welkom om dit aan die museum te skenk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article