Die keldermeester van Nuy-wynkelder, Christo Pienaar, is aangewys as Worcester en Breedekloof se Wynmaker van die Jaar.

Hierdie gesogte toekenning word jaarliks aan ’n wynmaker uit Worcester en Breedekloof toegeken.

“Dit is lekker om jou wyne te meet teen ander wyne uit dieselfde streek. Ons werk almal met baie van dieselfde natuurelemente, dit maak die kompetisie baie uniek,” sê Pienaar.

Die naaswenner is CP Conradie van Conradie Penhill en die derde plek is ingeneem deur Stettyn Kelder.

Kompetisieformaat en beoordeling

Die formaat van die kompetisie werk as volg: Elke kelder skryf drie tot vyf wyne in wat in hul proelokaal te koop aangebied word.

Die agt kategorieë waarin die wyne beoordeel word is chenin blanc, chardonnay, sauvignon blanc, rooi en wit versnitte, pinotage, cabernet sauvignon en gefortifiseerde wyne.

Die onafhanklike beoordelingspaneel bestaan uit vyf lede wat die wyne blind proe. In elke afdeling word die vyf topwyne aangewys.

Die wynmaker wat die beste punte in die onderskeie afdelings behaal, word as Wynmaker van die Jaar aangewys.

Vanjaar se beoordelaars was Tom Block (sameroeper en Kaapse wynmeester), Nina-Mari Bruwer (Kaapse wynmeester), Danie Marais (wynmaker by Windmeul-kelders), Francois van Niekerk (wynmaker by Wellington Wines) en Cobie Viljoen (konsultant-wynmaker van Hermanus).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article