Die beskikbaarheid van ’n spesialisdiens by Ceres- en Robertson-hospitale maak ’n groot verskil aan die lewe van kinders met gesondheidsuitdagings wat hul ore, neus en keel raak. Hulle kan nou vinniger terugkeer na deelname aan aktiwiteite by die huis, dagsorg, speelskool en die klaskamer as gevolg van die dienste van ’n deeltydse oor-, neus- en keel (ONK)-spesialis.
Pasiënte van hierdie gebiede word sedert Maart vanjaar verwys na ’n ONK-spesialis wat deeltydse dienste by die hospitale verskaf. ’n Spesialisdiens soos hierdie word gewoonlik nie op die vlak van distrikshospitale soos dié in Ceres en Robertson gelewer nie, maar personeel van die Wes-Kaapse regering se departement van gesondheid en welstand het die behoefte raakgesien en die geleentheid aangegryp om die deeltydse aanstelling te maak. Dit beteken dat jong pasiënte dienste vinniger en nader aan waar hulle woon kan ontvang.
Met Kinder- en Jeugmaand wat onlangs afgehandel is, is die departement trots om te sê dat tot dusver 15 kinders by die diens by die Ceres-hospitaal baat gevind het, en 13 by die Robertson-hospitaal.
Volwassenes word ook na die ONK-spesialis verwys soos nodig, maar die diens het veral ’n positiewe impak op die welstand van die kinders wat bygestaan word. Die eerste 1 000 dae van ’n kind se lewe (die tyd tussen bevrugting en die kind se tweede verjaardag) is ’n deurslaggewende tyd van ontwikkeling vir kinders. As ’n gesondheidsorg-toestand soos chroniese opbou van vloeistof in die binneoor nie gou behandel word nie, kan dit die kind langer neem om nuwe woorde aan te leer, instruksies te volg en in die klaskamer deel te neem. Op die lang termyn kan dit ’n baie negatiewe impak op die kind hê.
Een van die pasiënte wat in die Ceres-hospitaal behandel is, is die vierjarige Denash Titus. Sy ma, Macheline Cloete, sê aanvanklik het Denash dikwels mangelontsteking gehad. Sy het ook opgemerk dat sy spraak nie so ontwikkel was soos ander kinders van sy ouderdom nie. Sy het hom na die Bella Vista-kliniek geneem en ná ondersoeke is hy ’n afspraak gegee om Tygerberg-hospitaal toe te gaan.
Sy was baie bly toe sy gebel is met die nuus dat haar seun behandeling in Ceres kan ontvang.
“Dit was ’n baie aangename ervaring. Sy prosedures is in een operasie gedoen, en hy het ’n opvolgdatum met dr. Post, die ONK-spesialis, in September,” sê Macheline.
Denash het onlangs pampoentjies gehad, maar verder is hy in goeie gesondheid sedert die prosedure.
Dr. Karlien Doubell, waarnemende hoofbestuurder van die Ceres-hospitaal, sê dat, benewens sy uitdaging van mangelontsteking, gesondheidsorgwerkers ook vertragings in Denash se spraakontwikkeling opgemerk het.
Met verdere ondersoeke het hulle vasgestel dat hy vloeistof in die binneoor gehad het, wat sy vermoë om te hoor beïnvloed het. Hy is verwys na ’n hospitaal wat die ONK-spesialisdiens aangebied het, maar dit sou ’n wagtyd van minstens ’n jaar beteken het. Die aanstelling van die deeltydse ONK-spesialis by die Ceres-hospitaal het egter beteken dat Denash in ’n japtrap in sy tuisdorp gehelp kon word. In April is sy mangels en adenoïede verwyder, en ventilasiebuise is ingesit.
“Vier jaar oud is ’n piektyd vir spraakontwikkeling. Daarvoor het jy jou gehoor nodig. In sy geval kon ons ten minste ’n jaar vroeër ingryp as sou ons nie die diens hier aangebied het nie,” sê dr. Doubell.
Die departement bedank gesondheidsorgwerkers wat voortdurend na geleenthede soek om dienslewering aan te pas sodat die welstand van pasiënte altyd topprioriteit is, veral jonger pasiënte.
Hulle moedig ook ouers, soos Macheline, aan om vinnig uit te reik vir hulp as hul jong kind siek is.




