Die nuwe reservoir by pre-loads bokant die Worcester-gholfbaan is op dreef om teen 31 Augustus voltooi te wees.
Bouwerk aan die vyfde reservoir vir Worcester het verlede jaar in April begin en 79% van die projek is teen 30 Junie afgehandel. Die beraamde koste vir die nuwe reservoir is R74 miljoen en aan die einde van die vorige finansiële jaar was 81,3% van dié geld al gebruik.
“Die R74 000 000 uitgegee verteenwoordig die beraamde koste van die projek, en was dienooreenkomstig in die munisipale begroting opgeneem.
“Die werklike uitgawe, soos op 30 Junie 2023, die einde van die munisipale finansiële jaar, staan op R59 959 552.14, oftewel 81.03%. Alle aanduidings toon dat die projek op skedule en binne begroting voltooi gaan word,” het Chad Malgas, ’n woordvoerder vir die BVM, gesê.
Ongeag die gure weer wat in die laaste ruk deur die streek ervaar is, is die projek slegs vyf dae agter skedule.
“Ingevolge berekening is die projek ongeveer vyf dae agter skedule vanweë gure weersomstandighede, naamlik die wind en reën wat tydens Mei plaasgevind het. Die kontrakteur is egter oortuig dat hul gebeurlikheidsplan voldoende is om die agterstand in te haal en sodoende te verseker dat die projek teen 31 Augustus voltooi word,” verduidelik Malgas.
Sodra dit voltooi is, sal die reservoir 20 megaliter water kan stoor. Hiermee word gepoog om vir Worcester 48 uur se noodbergingskapasiteit te gee. Die konstruksie van die nuwe reservoir het die aanlê van ’n nuwe pypnetwerk ingesluit sodat dit by die ander reservoirs se netwerk kan koppel.




