Saam met die viering van sy 70ste bestaansjaar, het De Wet-wynkelder pas ’n moderne en toonaangewende proelokaal geopen.
Dié lokaal, gerieflik geleë langs die N1 net buite Worcester, is ‘n gesamentlike projek deur Johann en Michelle Strydom van JAM Interiors en die argitek Wilhelm Basson.
Hulle het dit reggekry om ’n spasie te skep waar hoë gehalte afrondings hand-aan-hand gaan met die kelderbestuurder, Tertius Jonck, se visie van volhoubaarheid. Die interieur word gekenmerk deur die gebruik van natuurlike produkte soos hout en natuurlike materiale, saam met skoon lyne en duursame afwerkings wat dadelik die oog vang.
“Ons wil aan ons kliënte ’n unieke wynproe-ondervinding bied,” sê Jonck.
“Die proelokaal skep die gevoel van ‘n galery waar elke stuk in die lokaal ’n gesprekspunt kan wees. Daar is ’n simbiose tussen die kwaliteit wyne wat ons bied en die dekor.”
Die proelokaal was eers ’n ou huis wat later ’n wynverkopelokaal geword het. Nou kan kliënte in die splinternuwe spasie kom wyn proe waar die natuurlike gevoel – en ‘n héérlike kaggel vir die winter – ’n warm huislike atmosfeer skep.
Die lisensiëring vir die volle bedien van wyne sal volgende jaar in plek wees.
Jonck se visie is egter nog verder gevoer met die unieke kaas-en-vleisbord wat met vyf uitgekose wyne van De Wet gekombineer word. Altesaam 90% van die produkte op die bord word plaaslik uitgesoek of handgemaak.
So word die neut-roomkaas, wat met vye en met ongehoute chenin blanc gepaar word, daar naby by Nonna vervaardig.
Wynmaker Phillip Vercuiel het in samewerking met sy broer, die sjef Daniel Vercuiel, die kaas- en vleisbord ontwikkel.
“Om volhoubaar te wees bottel ons slegs wyne wat ons self gemaak het en gebruik ons slegs druiwe vanaf ons eie lede. Hierdeur eer ons die kwaliteit wat ons area ons bied en hoef ons vir niemand terug te staan nie,” sê Jonck.
Volgens Jonck is volhoubaarheid baie belangrik by De Wet. Daarom vorm die wynverkope deel van die groter prentjie van ’n plan van selfonderhoudendheid. Dit sluit onder meer die hergebruik van kelderwater op inheemse plantegroei, wat in die volgende fase in die kelder se landskapontwikkeling sal posvat.
*De Wet-wynkelder is die oudste Koöperatiewe Wynkelder – nou maatskappy – in Worcester.


