’n Botaniese tekening van die nuwe plantspesie wat by Worcester ontdek is, Haumannii Bobbejaankool. Foto:


Die bekende botaniste Ernst van Jaarsveld en Anso le Roux het in 2015 ’n nuwe plantsoort –Othonna Haumannii, oftewel die Haumannii Bobbejaankool – in ’n veld buite Worcester ontdek, en die nuwe spesie is onlangs amptelik in die tydskrif Avonia 41(3) 2023 vasgepen en deur botanici as ’n nuwe plantsoort geklassifiseer.

Dit is ’n bosagtige plant wat ongeveer 70 sentimeter hoog staan. Die plant het ’n kenmerkende dik stam en sy basis is geswel, sodat die stam kan help om water ondergronds te stoor.

Dit het klein, liniêre, skerp blaartjies wat in die boonste derde gelob is en opwaarts na die son wys om verdamping te voorkom.

Die plant bly immergroen, m.a.w. hy verloor nie sy blaartjies in die winter nie. Die plant het relatief klein geel blommetjies. Die plant blom in die herfs en strooi sy saadjies in die herfs en in winter en die wind help dan om die saad te versprei.

Die Haumannii Bobbejaankool is op heuwels in ’n gebied suid van Worcester, tussen Worcester en Robertson, ontdek. Die plantsoort groei slegs op rotsagtige terrein in sandsteen- rotskrake wat in vol son ongeveer 750 meter bo seespieël is. Hierdie sandsteenrotse word gekenmerk deur ’n hoë suurinhoud vanweë die kwartsagtige sandsteen.

Die plant groei in ’n gebied wat strek suidoos van Brandvleidam verby Hammasberg (in die gebied suid van Doornrivier, Ouhangsberg, Jonaskop (in die gebied langs die Rooihoogtepas tussen Worcester en Villiersdorp), Gannaberg, Gemsbokkop tot by Rooiberg naby Robertson.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article